’n Nuwe studie wat in die tydskrif Antioxidants & Redox Signaling gepubliseer is, handel oor die voordele wat die drink van vonkelwyn vir die brein inhou.

Die Universiteit van Reading het die navorsing reeds in 2013 gedoen, maar dit het onlangs eers die aandag begin trek nadat dit op Facebook as modenuus aangebied is. Dit lyk of die fenoliese samestellings in vonkelwyn proteïen ondersteun wat die geheue beïnvloed. Dit kan ruimtelike geheue verbeter, met ander woorde iemand se vermoë om sy omgewing te leer ken en daarin rond te beweeg.

Hierdie proteïen word gewoonlik minder soos ’n mens ouer word

Hierdie proteïen word gewoonlik minder soos ’n mens ouer word, maar vonkelwyn kan glo die proses verlangsaam. Dit kan glo ook help dat ander kognitiewe prosesse stadiger agteruitgaan soos ’n mens ouer word.

Aan die begin van die studie is agt rotte dopgehou terwyl hulle deur ’n doolhof beweeg het. Daarna het hulle ses weke lank elke dag vonkelwyn gekry. Ná hierdie tydperk moes die rotte weer die doolhof-uitdaging voltooi – en dié keer het hulle beter gevaar.

Die bevindings dui daarop dat vonkelwyn degeneratiewe breintoestande soos demensie en Alzheimersiekte kan help beveg.

Die resultate is nou wel bemoedigend, maar hierdie studie beteken nie mense moet die een ná die ander bottel van dié eksklusiewe drankie kafdraf nie.

Prof. Jeremy Spencer van die departement voedselwetenskappe aan die Universiteit van Reading het gewaarsku: “Volgens hierdie opwindende resultate is dit vir die eerste keer duidelik dat die matige inname van vonkelwyn kognitiewe werking, soos geheue, kan beïnvloed. Ons moedig ’n verantwoordelike benadering tot alkoholverbruik aan, want die resultate toon ’n baie klein inname, byvoorbeeld een of twee glase per week, kan doeltreffend wees.”

Daar is aangevoer ’n paar glase vonkelwyn kan geheueverlies help hokslaan, maar meer as dit kan jou gesondheid nadelig raak.

© Cover Media