Dit is een ding om ’n uitrusting te kies wat jou figuur vlei, maar ai, wanneer jy jouself sonder ’n draad klere sien . . . Volgens navorsing wat deur Mind Body Green gedoen is, het 90 persent van die vroue en meisies wat deelgeneem het, aangedui hulle is ontevrede met hul liggaam. Altesaam 75 persent van die mans en seuns wat deelgeneem het, was ontevrede. Maar hoe maak ’n mens vrede met jou voorkoms? Eerstens moet jy realistiese doelwitte stel wat liggaamsveranderinge deur oefening en eetgewoontes betref. Jy moet eenvoudig aanvaar sekere dinge sal nooit verander nie. As jy byvoorbeeld breë heupe het, sal dit so bly, al verloor jy ook hoeveel gewig. Deur hierdie verwagtinge te bestuur, kan jy sommer uit die staanspoor ’n bietjie meer selfvertroue hê wat jou liggaam betref.

Dit gaan jou nêrens bring om jou pensie te probeer vergelyk met Cameron Diaz se plat maagspiere nie.

Tweedens moet jy minstens vyf positiewe eienskappe voor die spieël uitwys, eerder as om net alles uit te wys waarvan jy nie hou nie. As jy byvoorbeeld van jou klein middeltjie hou, noem dit. As jy van die vorm van jou kuite hou, voeg dit by jou lys. Bekyk jouself minstens 10 minute lank aandagtig en fokus op jou goeie punte. Hoe gereelder jy positiewe boodskappe herhaal, hoe meer sal jy dit begin glo en begin waardeer wat jy in die spieël sien.

Derdens help dit geensins om jou alewig met ander mense te vergelyk en jaloers te voel op hul liggaam nie. Dis moeilik in ’n wêreld waarin ons met foto’s van beroemdes gebombardeer word. Dit gaan jou nêrens bring om jou pensie te probeer vergelyk met Cameron Diaz se plat maagspiere nie. Jy kan nie liggaamsdele verruil nie en jy het nie die geld, persoonlike afrigters of sjefs waarop die sterre staatmaak om hul figure so volmaak te kry nie.

Wees realisties en werk aan dit wat jy het; elke mens se liggaam is uniek en het baie positiewe eienskappe.

© Cover Media