Volgens navorsing wat deur Mind Body Green gedoen is, verklaar 90 persent van die vroue en meisies dat hulle ontevrede voel met hul liggame, terwyl die persentasie by mans en seuns net so effens minder is teen 75 persent. Wat staan ons te doen om ons naaktheid te aanvaar?

Dit is in die eerste plek noodsaaklik dat jy realistiese doelwitte stel wanneer jy jou liggaam deur dieet en oefening wil verander. 'n Sekere mate van aanvaarding dat party dinge nooit gaan verander nie, is noodsaaklik.

Lees ook: Kan die huwelik jou teen vetsug beskerm?

As jy byvoorbeeld breë heupe het, sal jy hulle altyd hê – al verloor jy hóéveel gewig. As jy hierdie verwagtinge beheer, kan jy van die begin af 'n bietjie meer selfvertroue ten opsigte van jou liggaam vestig en dan daarop voortbou.

Tweedens, maak 'n punt om 'n lysie te maak van ten minste vyf dinge aan jou liggaam waarvan jy hou, in plaas daarvan om voor die spieël te gaan staan en alles waarvan jy nie hou nie, op te noem. As jy dus van jou dun middeltjie hou, vertel jouself daarvan.

As jy van die vorm van jou kuite hou, voeg dit by die lysie. Kyk ten minste 10 minute werklik na jouself en lig jou goeie punte uit. Hoe meer dikwels jy die positiewe boodskappe vir jouself herhaal, hoe meer sal jy hulle begin glo en dit wat jy in die spieël sien, waardeer.

Terwyl ons ons eie grootste vyande kan wees, help dit ook nie dat ons in die gewoonte verval om onsself gedurig met ander mense te vergelyk en jaloers te raak op hul liggame nie. Dit kom selfs meer dikwels voor in die hedendaagse wêreld wat deur beroemdes aangevuur word.

Lees ook: Hier is waarom jy vanjaar by jou nuwejaarsvoornemens móét hou

Probeer dus om nie jou maagspiere met Cameron Diaz se sespak te vergelyk nie. Jy kan nie liggaamsdele uitruil nie en jy het moontlik ook nie die geld, persoonlike opleiers en tuissjefs wat 'n klomp van die beroemdes gebruik om hul figure te bereik nie.

Weer eens: wees realisties en werk met dit wat jy het: elkeen se liggaam is uniek en dit kan baie positiewe kenmerke bied.

© Cover Media