Onthou jy al die ure wat jy na snaakse video’s van katte gekyk het op YouTube? Of op skakels geklik het wat jou vriende gedeel het gedurende ’n middagverposing?

Sommige mense drink koffie of iets soortgelyks as hulle hier teen drieuur smiddae begin lomerig voel, maar kafeïen kan weer hul slaapgewoontes affekteer.

’n Groep wetenskaplikes het dus maniere gevind om die lus vir sluimer te laat wyk sonder dat jy hiperaktief word, en video’s oor katte is blykbaar nommerpas.

Die Amerikaanse Chemiese Vereniging het ’n video van al hulle wenke bekendgestel, met voorstelle soos om ligte aan te skakel, gehidreer te bly en te dans.

Beeldmateriaal waarop troeteldiere snaakse dinge aanvang help om die oksitosien, ’n goedvoelhormoon, in jou brein op te kikker. Terselfdertyd word die streshormoon kortisol verlaag en dit beteken dat jy beter voel en makliker op jou werk konsentreer.

Miskien nie soveel pret nie, maar baie natuurlik is die voorstel om soveel water moontlik te drink.

“Ontwatering kan tot moegheid lei, om nie eens te praat van ernstiger simptome soos verwardheid, hartkloppings en floutes nie,” het die groep verduidelik.

“Die volwasse menslike liggaam bestaan uit 50 tot 65 persent water. Ons raak gewoonlik dors nadat ons twee tot drie persent van ons liggaamsvog verloor het.

“Glo dit as jy wil, maar die verlies aan slegs een persent kan jou geestelik sowel as liggaamlik affekteer.”

As jy jou lyf rondswaai sal dit ook die lomerigheid afskud, aangesien dans endorfiene produseer en dit verbeter jou luim. Dit is egter moeiliker om jou hip-hop-roetine vir jou baas weg te steek as om stilletjies na ’n 20 sekonde lange video van ’n kat wat klavierspeel te kyk.

Dit sal ook help as jy buite rondstap of ligte aanskakel, want lig stuur seine na die brein dat dit tyd is om op en wakker te wees.

“Buitentoe gaan en ’n vinnige wandeling in die son kan dalk al wees wat jy nodig het om die res van die dag glad te laat verloop,” het die span bygevoeg.

© Cover Media