Die neus speel ’n belangrike rol om ons aan die lewe te hou: Dit help ons om lug in en uit te asem. Soos ons deur die neus inasem, word die lug skoon en vogtig gemaak en opgewarm voor dit die longe bereik.

Maar met die seisoensveranderinge kan jy met ’n droë neus sukkel. Dit stel jou longe en algemene gesondheid in gevaar. Dit is dus baie belangrik om na jou neusgesondheid om te sien en so gou moontlik behandeling vir ’n droë neus te kry.

Neusdroogheid kom gewoonlik tydens die wintermaande voor. Namate dit kouer raak, raak die lug koeler en binnenshuise verwarmers en lugversorgers word ingespan om warm, droë lug in ons huise, kantore en inkopiesentrums te pomp. Dit kan veroorsaak dat die voering van jou neus droog, geïrriteerd en sensitiewer raak. Neusdroogheid kan ook lei tot neusbloeding.

Hier is ’n paar wenke om jou te help:

  1. Topikale soutoplossing-neussproei of soutoplossing-druppels. Dit bied vinnige verligting vir neusdroogheid en help hou die voering van die neus vogtig.
  2. Gebruik saans ’n bevogtiger in jou kamer. Dit kan die lug help vogtig hou, wat jou in staat stel om gemakliker asem te haal.
  3. Sit af die verwarmer. Trek eerder nog klere aan om warm te bly.
  4. Plaas ’n bak water naby ’n verwarmer. Dit sorg vir nog vog in die lug.
  5. Moenie ’n droë neus vryf of krap nie. Dit sal skade aanrig aan die delikate vel in en om die neus, wat die risiko vir infeksie verhoog.
  6. Beperk blootstelling aan prikkelstowwe. Dit sluit in stof, sigaretrook, stuifmeel, troeteldiere en huishoudelike skoonmaakmiddels.

Saamgestel deur Faiza Mallick

Bron: Iliadin