In navorsing aan die Universiteit van Toronto is bevind vlugsokkies kan die hoeveelheid vloeistof help verminder wat bedags om die onderbene opbou. Dit het betrekking op slaap, want wanneer die persoon plat op sy bed lê, kan die vloeistof as gevolg van swaartekrag opstyg na sy nek toe. Dit kan lei tot obstruktiewe slaapapnee, ’n toestand wat met snork verband hou. In Brittanje raak hierdie toestand byvoorbeeld ’n geraamde 3 miljoen mense.

Apnee word veroorsaak deur oortollige vet en vloeistof om die nek. Die nekspiere verslap en die persoon hou 10 sekondes of langer op met asemhaal. Wanneer die lug dan vibreer wat teen die sagte weefsel in sy pad vasgevang is, snork so iemand. Sodra die brein agterkom die persoon het ophou asemhaal, stuur hy ’n sein na die spiere in die lugweg om weer saam te trek. Volgens hierdie studie, wat in die tydskrif Sleep Medicine gepubliseer is, word beweer vlugsokkies, wat eintlik net ’n afgewaterde weergawe van die druksokkies is wat in hospitale gebruik word om spatare te behandel, takel die probleem deur die onderbeen te druk sodat die bloed aan die vloei bly en die opbouing van vloeistowwe gestuit word.

'Dit sal nie ’n behandeling in eie reg word nie, maar dit kan bykomend tot konvensionele behandeling gebruik word.'

Vyftig mans met slaapapnee is vir die proefneming gewerf. Die helfte het twee weke lank elke dag druksokkies gedra en die sokkies uitgetrek wanneer hulle gaan slaap het. Die res het gewone sokkies gedra.

Al die pasiënte is dan snags aan ’n monitor gekoppel om op die hoogte te bly van hul snorkpatroon, terwyl elektrodes op die nek- en beengedeelte die verskuiwing van vloeistof bereken het wanneer die persoon lê.

Die resultate het getoon by die mans wat die vlugsokkies gedra het, het minder vloeistof na hul nek beweeg. Daar was ook ’n afname in die kere dat hul slaap onderbreek is. Hierdie afname was van gemiddeld 30 tot ongeveer 15 keer per uur. By die deelnemers wat nie die spesiale sokkies gedra het nie, was daar feitlik geen verandering in hul slaappatrone of hul snorkery nie.

Dr. Simon Merritt, ’n konsultant in respiratoriese en slaapmedisyne by die Conques-hospitaal in Hastings, Engeland, sê: “Dit sal nie ’n behandeling in eie reg word nie, maar dit kan bykomend tot konvensionele behandeling gebruik word.”

© Cover Media/strong>