Vitamiendrankies help baie mense ’n besige dag oorleef. Mense is maar alte bereid om duur drankies te koop wat beloof om hul liggaams- of breinkrag ’n hupstoot te gee om hulle ’n gimsessie of laataand by die werk te help oorleef. Maar volgens ’n nuwe studie hou dié drankies eintlik geen voordele in nie.

Die meeste van die drankies voer aan die voedingstowwe en vitamiene sal met konsentrasie, jou bui en produktiwiteit help, maar volgens voedingswetenskaplikes aan die Universiteit van Toronto en die Ryerson-universiteit in Kanada is dié bewerings nie op wetenskaplike bewyse gegrond nie. Volgens ’n verslag wat in die vaktydskrif Applied Physiology, Nutrition and Metabolism gepubliseer is, kry jong mense in elk geval hul daaglikse vitamieninname op ander maniere in. Navorsers het gekyk na vitamiendrankies in supermarkte, hul voedingstowwe en die voordele wat dit na bewering inhou, waarvan die algemeenste vitamiene B6, B12, C en niasien was.

'[D]ié bewerings [wat vitamiendrankies maak is] nie op wetenskaplike bewyse gegrond nie.'

Buiten vitamien C, kry die meeste jong mense reeds hul daaglikse voedingstowwe in, selfs sonder die drankies. “Hoewel ons bevind het verbruikers trek nie veel voordeel uit die bygevoegde voedingstowwe in die soort drankies nie, word die meeste produkte bemark asof die verbruiker op ’n unieke manier baat vind by die voedingstoftoevoegings,” sê die navorser Naomi Dachner.

Die teikenmark is gewoonlik jong volwassenes wat dalk voel hulle het ’n hupstoot nodig terwyl hulle studeer, in die middel van ’n lang dag by die werk of ná ’n aandjie uit. Die verslag het die drankies skerp veroordeel en sê dit help nie “bestaande voedingstekortkominge in die bevolking” oplos nie.

Daar word dikwels op etikette aangevoer dat die produkte help met byvoorbeeld die immuunstelsel of antioksidant-eienskappe bevat, maar die jong “teikengroep” kry dikwels reeds genoeg daarvan in.

“Daarbenewens word voedingstowwe dikwels in dieselfde asem genoem as byvoorbeeld prestasie en emosionele welstand, voordele wat verder as gewone voedingswetenskap strek,” lui die verslag

Wanneer jy dus weer dink jy het ’n hupstoot nodig, kan dit jou dalk meer loon om ’n vrugte- of groentedrankie by die huis te maak. Kies jou gunstelingvrug en/of -groentesoort en gooi dit in die versapper. Of mik daarna om elke dag ’n oplosbare 1000 mg-vitamien C-tablet te neem; die meeste mense het ’n vitamien C-tekort.

© Cover Media