Ná ’n naweek van weglê aan wegneemkos en soetigheid kan dit moeilik wees om Maandagoggend terug te keer na jou normale eetpatroon.

Daar is gelukkig ’n manier waarop jy die nadelige uitwerking van gemorskos kan teenwerk: sluit vitamien B3 by jou dieet in.

Volgens ’n studie wat onlangs in Nature Medicine gepubliseer is, bevat dit die waardevolle metaboliet (’n bestanddeel wat gedurende metabolisme vervaardig word) NAD+. Laasgenoemde reguleer die metabolisme van die lewer, verlaag die cholesterolvlak en bevorder gewigsverlies.

Sharon Morey, ’n voedingkundige by Quest Vitamins, het verduidelik watter negatiewe uitwerking swak eetgewoontes op ’n mens se gesondheid het.

“Daar is ’n verband tussen diëte wat baie koolhidrate en vet bevat en verhoogde cholesterolvlakke en vettige lewer. By laasgenoemde bou vet in die lewer op. Dit beïnvloed die werking van die lewer, wat kan lei tot inflammasie en littekenvorming wat soortgelyk is aan alkoholverwante lewerskade,” het sy aan Cover Media gesê.

“Hierdie interessante navorsingstuk dui daarop dat meer vitamien B3 in ’n mens se dieet jou van hierdie oortollige vette kan help ontslae raak en die lewermetabolisme kan verbeter.” Die kersie op die koek is ’n mens hoef nie jou eetgewoontes drasties te verander nie; kalkoen, sampioene, hoender, sade, avokado’s en vis bevat almal vitamien B3.

Hierdie voedselsoorte sluit ook minerale, aminosure en ander B-vitamiene in, wat help met die verbetering van die algemene gesondheid van jou liggaam. Dis selfs makliker as jy ’n aanvulling neem wat vitamien B3 bevat.

Sharon beveel aan dat ’n mens ’n gewone B-aanvulling kry pleks van net B3, aangesien al die voedingstowwe goed saamwerk.

Daar is ook ander maniere waarop ’n mens jou metabolisme maklik kan aanwakker: eet byvoorbeeld kosse wat omega-3-vetsure bevat (vis is die belangrikste keuse), drink groentee en smul aan eierwit.

Oefening speel ook ’n rol, en iets so eenvoudigs soos om liewer met die roltrap op te klim as om stil te staan, asook om te stap pleks van die bus te haal, kan op die lang duur ’n groot verskil maak.

Hoe meer jy jou hartklop kan stimuleer, hoe vinniger sal jou metabolisme wees – en ná ’n woeste naweek kan dit tot jou voordeel strek.

© Cover Media