In ’n onlangse ondersoek is ’n skakel gevind tussen vitamien B12 en puisies wat kan beteken dat die vermindering van jou vitamien B12-inname ’n groot uitwerking op jou vel sal hê.

Die vitamien kom voor in vleis, eiers, suiwelprodukte en vis – en ook in die polariserende smaakmiddel Marmite – en die navorsing wys dit verander die manier waarop bakterieë op die vel werk. Veral mense met ’n neiging tot aknee of vlekke is vatbaar daarvoor.

Dit is reeds bekend dat die vitamien as aanvulling jou vel benadeel, maar dit is die eerste keer dat wetenskaplikes die rede daarvoor weet. Die vitamien verander die chemiese werking van Propionibacterium acnes, die bakterie wat aknee veroorsaak. Dit beteken dit begin ’n inflammatoriese mengsel skep wat aknee veroorsaak.

“Toekomstige opvolgstudies kan lei tot die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels vir hierdie medies belangrike siekte,” het die Amerikaanse span verduidelik in die ondersoek wat in die tydskrif Science Translational Medicine gepubliseer is.

Dit is belangrik om daarop te let dat nie almal wat die vitamien inkry, ’n uitbraak van aknee sal kry nie aangesien daar ander veranderlikes is, soos bakterieë op die vel, wat in ag geneem moet word.

Die deurbraak is gemaak toe vitamien B12-aanvullings aan 10 mense gegee is en hulle daarna dopgehou is. Een van hulle het ná ’n week vlekke ontwikkel en daarna is bakteriële monsters van almal geneem en met mekaar vergelyk. Daar is ontdek as jy meer van die vitamien inneem, hou die bakterië op om self vitamien B12 te vervaardig en dit beteken op sy beurt daar kom meer van die inflammatoriese stof porfirien voor. Dit word deur bakterieë uitgeskei en word reeds aan uitbrake van aknee gekoppel.

Dit is belangrik om te onthou dat vitamien B12 ’n belangrike deel van die dieet vorm, dus moet dit nooit heeltemal uitgelaat word nie. Dit is een van die dinge wat die senustelsel gesond hou, en waar daar ’n gebrek daaraan is, kan ’n hele boel probleme kop uitsteek – soos kwaai moegheid, depressie, spierswakheid en probleme met die geheue en oordeelsvermoë.

© Cover Media