Dié van julle wat nie alte stortverskrik is nie en ook geen kwaad daarin sien as die stof opgaar nie, kan moontlik gelukkig wees, aangesien daar beweer word dat ’n ietwat slap houding jeens sindelikheid op die lange duur voordelig kan wees.

Die dermkanaal behoort gevul te wees met vriendelike bakterieë wat ’n goeie klompie vesel nodig het, wat byvoorbeeld in vrugte, groente en semels voorkom.

Dis belangrik, aangesien dit gifstowwe neutraliseer, vertering aanhelp, ontslae raak van skadelike stowwe en dan help dit ook om die risiko vir skadelike bakterieë te verlaag.

Navorsers aan Stanford se mediese skool in Amerika het bevind dat hedendaagse diëte so ’n klein hoeveelheid vesel bevat dat sommige mikrobes in die derms moontlik uitgeroei kan word. Wat nog erger is, is dat die probleem geslagte lank oorgedra kan word en dit beteken dat jou dieet ’n invloed kan uitoefen op jou kinders en kleinkinders.

Bakterieë kan ook uitwendig opgetel word en dit is waarom dit nodig kan wees dat ons weer dink oor sindelikheid. Antibiotika, keisersneë wat ál meer uitgevoer word en die afname in die getal vroue wat borsvoed, het alles ’n uitwerking gehad op bakterievlakke.

Lees ook: Meer sibbes = gedragsprobleme?

Mense word dus aangeraai om net ’n antibiotikum te gebruik wanneer dit absoluut noodsaaklik is en nie hul hande te was elke keer nadat hulle met die hond gespeel of in die tuin gewerk het nie.

Die navorsingspan het die verband tussen vesel en bakterieë ontdek deur muise te bestudeer. Daar is bevind mikrobes in die knaagdiere se maag word moontlik deur uitsterwing bedreig as hulle kos gekry het wat na aan dié van ’n hele paar eerstewêreldlande was.

“Dit gaan moeilik wees om daarsonder te lewe,” het dr. Justin Sonnenberg gesê rakende die dermbakterieë. Hulle beveg patogene (wat siekte veroorsaak), oefen ons immuniteitstelsel en lei selfs die ontwikkeling van ons weefsels.”

Lees ook: Ruim op en spaar geld

Een groep muise het ’n dieet met min vesel gekry en ’n ander groep ’n veselryke dieet. By dié wat nie veel vesel ingekry het nie, was daar ná ’n paar weke ’n afname van 75 persent in dermmikrobes.

Sommige soorte het heeltemal uit die diertjies se maag verdwyn. Wat nog skokkender is, is die waarneming dat die neiging by die knaagdiere se kleintjies voortgeduur het. Teen die vierde geslag muise het daar tot 75 persent minder bakterieë voorgekom as by hul voorsate.

© Cover Media