’n Vinnige drafsessie elke dag is dalk ewe doeltreffend om jou lewe te verleng as ’n lange, toon ’n ondersoek waarvan die bevindinge Maandag bekendgemaak is.

Om selfs net vyf tot 10 minute per dag te draf kan jou kans beduidend verminder om hartsiekte te kry en jonk te sterf, lui die bevindinge wat in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer is.

Dit toon mense wat draf, het ’n 30 persent laer risiko vir sterfte en ’n 45 persent laer risiko om aan ’n kardiovaskulêre siekte te sterf as dié wat nie draf nie.

Die drawwers kan gemiddeld sowat drie jaar langer leef as dié wat nie draf nie.

Daarby was die voordele van draf dieselfde of mense nou min of baie, vinnig of stadig, gedraf het.

Daar is geen beduidende statistiese verskil gevind tussen diegene wat 50 minute per week gedraf het en dié wat 180 minute per week gedraf het nie.

Dit het ook nie saak gemaak of die drawwer minder as 10 km/h gedraf het nie.

Selfs die mense wat min of stadig gedraf het, het beter gevaar as mense wat nie draf nie.

“Aangesien tyd een van die grootste hindernisse is om aan liggaamlike aktiwiteit deel te neem, motiveer die ondersoek dalk meer mense om te begin draf,” sê die hoofskrywer, Duck-chul Lee, ’n medeprofessor aan die Staatsuniversiteit van Iowa se departement kinesiologie.

Die ondersoek is gegrond op meer as 55 000 volwassenes met ’n gemiddelde ouderdom van 44 van die Amerikaanse deelstaat Texas wat meer as 15 jaar nagevors is. Die meeste was wit en sowat ’n kwart vroue.

Vir die ontleding het die navorsers die deelnemers in ses groepe verdeel: mense wat nie draf nie en vyf groepe drawwers volgens weeklikse draftyd, afstand, gereeldheid en spoed.

“Selfs dié met die kortste weeklikse drafafstand (10 km of minder), minste gereeldheid (een tot twee keer) . . . en stadigste spoed (minder as 10 km/h) het aansienlik laer risiko’s vir sterfte aan enige oorsaak gehad vergeleke met nie draf nie,” lui die ondersoek.

“Soortgelyke tendense is waargeneem met die risiko vir moraliteit weens kardiovaskulêre siekte.”

Ondersoeke het getoon tussen 40 en 80 persent van die publiek wêreldwyd oefen nie genoeg nie.

Amerikaanse gesondheidsowerhede se aanbeveling is 75 minute strawwe oefening of 150 minute (’n halfuur per dag, vyf dae per week) matige oefeninge.

“Al kan sulke lae voldoening aan riglyne oor liggaamlike aktiwiteit dalk toegeskryf word aan onbewustheid van die sterk voordele van oefening, is dit ook moontlik dat die standaard as te hoog beskou word, wat mense kan afskrik om eens te probeer,” staan daar in ’n meegaande artikel.

“Dit word eerder belangrik om doelwitte te stel wat met min moeite behaal kan word.”

Die navorsers het bevind dat wanneer draf met stap vergelyk word, ’n drafsessie van vyf minute dieselfde gesondheidsvoordele as ’n stapsessie van 15 minute bied.

’n Ondersoek waarvan die bevindinge in 2001 in The Lancet gepubliseer is, het getoon ’n kwartier se flink stap elke dag – die helfte van die aanbevole tydsduur – kan ook drie jaar by ’n mens se lewe voeg.