Jy het jou beste uitrusting aan, jou hare is perfek gestileer en jy is op pad na een van die beste uitgaanplekke – maar hoekom voel jy so angstig voor jy iemand vir ’n afspraak ontmoet?

Met so baie gedagtes wat deur jou kop maal, kan dit moeilik wees om steeds opgewonde te voel terwyl jy die angs in toom probeer hou wat jou oorspoel soos jy jou huis verlaat.

Maar moenie dat dit jou terughou nie. Die kenners het die volgende wonderkosse op Daily Mail Online gedeel wat jou sal help om die senuwees onder beheer te kry:

Kraakvars groente

Pleks van pepermente kou om jou soenwaardig te maak, beveel die dieetkundige Cassandra Barns aan dat jy voor jou afspraak aan groente soos wortels, appels en seldery peusel. Hoekom? Hierdie vars happies sal enige oortollige plaak wat ’n slegte reuk in jou mond kan laat, verwyder. En seldery hou nog ’n voordeel in: Dis ’n natuurlike diuretikum, wat beteken dit sal waterretensie en opgeblasenheid verhoed, verduidelik sy.

Water is ook baie belangrik omdat dehidrasie ’n slegte asem kan veroorsaak.

Donkersjokolade

As dit nie die eerste keer is dat jy en jou potensiële geliefde mekaar ontmoet vir ’n afspraak nie en jy iets intiemers oorweeg, is hierdie een net vir jou. Dit gaan nie altyd om gesondheid nie, verduidelik dr. Marilyn Glenville, dieetkundige en skrywer van Natural Alternatives to Sugar. ’n Paar blokkies donkersjokolade kan dalk net wees wat jy nodig het om in die regte bui vir romantiese intimiteit te kom.

Sy voer aan sjokolade bevat verskeie bestanddele wat jou bui kan opkikker. Dit sluit fenieletielamien in, wat kan optree as ’n neuro-oordragstof in die brein en gevolglik jou bui en libido kan affekteer.

Sjokolade bevat ook magnesium, een van die voedingstowwe wat nodig is om serotonien te vervaardig, die primêre hormoon wat sorg vir ’n gevoel van geluk en emosionele welstand.

Neute

Om die onderliggende stres te verminder kan jy ’n hand vol neute eet. Shona Wilkinson, dieetkundige by SuperfoodUK.com, beweer iemand se dieet kan optree as ’n sneller vir gevoelens van angs en ongemak omdat sekere kosse negatiewe emosies kan aanwakker.

Sy beveel aan ’n mens hou by kosse wat nie jou bloedsuikervlak te vinnig sal laat styg nie. Neute soos amandels, Brasiliaanse neute, haselneute en makadamianeute bevat proteïene en gesonde vette wat jou eetlus sal demp. “Dit is ook ’n goeie bron van magnesium, wat effektiewe energieproduksie tot gevolg het, terwyl dit ook die senustelsel kalmeer.”

© Cover Media