Passie verwys na ’n baie sterk gevoel of emosie oor iets, en kan die dryfkrag wees wat jou aanspoor om sukses te behaal. Jy kan passievol oor enigiets wees, van foto’s neem tot bak en kook. Jy kan selfs passievol daaroor wees om minderbevoorregtes te help.

Hier is ’n paar wenke om jou ware passie te bepaal:

Moenie dit van die hand wys tot jy dit nie self beproef het nie

Dis maklik om jou neus vir iets op te trek as jy nie self opgewonde daaroor is nie of as jy nie dink dis koel nie. Sê liewer volgende keer ja wanneer jou ouma jou na ’n hekel-uitstalling nooi. Dalk ontmoet jy iemand interessants of jy hou so baie daarvan dat jy dit sommer jou nuwe stokperdjie maak. Plaas jouself in nuwe situasies, dink vindingryk en moenie bang wees om iets nuuts te beproef nie.

Moenie bekommerd wees oor wat die wêreld nodig het. Vra jou af wat dit is wat jou lewendig laat voel en doen dit, want wat die wêreld nodig het, is mense wat voluit leef. - Howard Thurman

Het jy al iets gedoen en heeltemal meegevoer geraak? Soos wanneer jy ’n verjaarsdagkaartjie maak of ’n musiekinstrument bespeel? Dit wys dat jy iets doen waarvoor jy werklik ’n passie het. Die wonderlike ding van ’n passie hê, is dat jy dalk ander ook gelukkig maak deur dit te doen waarvoor jy lief is. Dink net hoe vervelig sou die lewe gewees het as jou gunstelingkunstenaars nie hul passie gevolg het nie.

Daar is geen passie daarin om tevrede te wees met ’n lewe wat minder is as die een waartoe jy in staat is. – Nelson Mandela

Leef jou uniekheid uit. Doen moeite om uit te vind wat jou spesiaal maak en versterk dan daardie eienskappe. As jy ’n goeie luisteraar is, moet jy jou liefde na ander uitdra en na diegene luister wat dalk ’n betroubare mens nodig het om mee te praat.

Kry ’n mentor

Nadat jy jou ware passie ontdek het, moet jy ’n deskundige op die gebied kry wat jou leiding kan gee. As jy daarvan hou om te skryf, nader  ’n uitgewer en vra watter wenke hy of sy het vir voornemende skrywers. Die meeste mense hou daarvan om raad te gee oor iets waaroor hulle passievol is.

-       Megan Bursey

Bronne:inc.com,tinybuddah.com