Dis amptelik. Videospeletjies kan goed wees vir jou. Hierdie soort speletjies word dikwels beskou as ’n luiaard se stokperdjie, maar nuwe navorsing toon rekenaarspeletjies kan die nadelige uitwerking van veroudering op mense se brein in toom hou en selfs omkeer.

Volgens die studie van die Universiteit van Kalifornië in San Francisco kan hierdie digitale speletjies keer dat die verstand se werking mettertyd verander.

“Die bevindinge is ’n sterk voorbeeld van hoe aanpasbaar die ouer brein is,” meen een van die navorsers van die studie, dr. Adam Gazzaley, professor in neurologie, fisiologie en psigiatrie.

Die navorsers het die 3D-speletjie NeuroRacer gebruik om deelnemers in hul 20’s tot 70’s te toets en bevind die vermoë om verskillende take te verrig neem af met ouderdom. Spelers moes ’n digitale motor op die skerm stuur op ’n kronkelpad oor heuwels terwyl hulle op die uitkyk moes wees na padtekens wat hulle moes skiet.

Lees ook: Dié WhatsApp-truuk kan jou baie ongemaklike oomblikke spaar

Ná die aanvanklike toets wat bepaal het die jonges het beter gevaar met die speletjie as die oueres, het navorsers ’n groep tussen 60 en 85 opgelei en altesaam 12 uur in die bestek van ’n maand laat speel. Soos die ouer mense verbeter het, het die speletjie moeiliker geword.

Binne vier weke het hulle so verbeter dat hulle meer punte aangeteken het as die 20-plussers. En ses maande later het die vaardighede met die videospeletjie nie afgeneem nie. Hul breingolwe is getoets en daar is bewys hul breinaktiwiteit begin lyk soos die jonger deelnemers aan die studie s’n.

Hulle het selfs beter as hulle gevaar met ’n geheuetoets. Die bevindings van die studie is in die vaktydskrif Nature gepubliseer.

“Veral met die vooruitgang in die ontwikkeling van hierdie soort speletjies kan dit help met hand-oog-koördinasie, probleemoplossing en logiese denke, geheue, konsentrasie en fyn motoriese vaardighede,” vertel die Durbanse sielkundige Rakhi Beekrum.

“Videospeletjis het voor- en nadele. In hierdie digitale era is dit onmoontlik en dalk ook nie raadsaam om dié stokperdjie te beperk nie.”

“Videospeletjies verg vaardighede, soos met skaak en sokker,” meen Dean Groom, ’n Australiese opvoedkundige ontwerper. “Sukses in speletjies hang af van deursettingsvermoë, intelligensie, oefening en leer, nie toeval nie,” voeg hy by.

Lees ook: Ignoreer jou maat jou as julle TV kyk?

Sommige kenners meen aanlyn videospeletjies kan ’n welkome sosiale oefening wees vir byvoorbeeld kinders met Asperger se steuring, ’n matige soort outisme, en ouer mense met Alzheimersiekte.

Maar dié interaksie gebeur in ’n onrealistiese wêreld met kinders wat elders voor ’n rekenaar sit. Daar is beter maniere om sosiale vaardighede aan te leer,” vertel dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion.

In nog ’n ondersoek is bevind seuns wat vyf uur of meer per dag rekenenaarspeletjies speel, wy tot ’n derde minder tyd aan lees as dié wie se spelery tot een of twee uur per dag beperk is.

“Maar om ’n gebalanseerde lewe te kan lei met speletjies speel as ’n kreatiewe afleiding, is na my mening gesond,” sê Hermann. Moet net nie videospeletjies as kinderoppasser gebruik nie, waarsku hy.

Deur kinders te monitor wat die speletjies speel, kan jy ’n idee kry van hoe jou kind dink oor sekere sake, soos geweld, sukses, medemenslikheid en ander kwessies wat dalk gevaarligte kan laat flits, sê Rakhi.

Dit kan ook ouers en kinders nader aan mekaar bring wanneer hulle saam die speletjies speel. En dit kan kreatiwiteit en verbeelding aanwakker en, na gelang van die speletjie, ook help met wiskundevaardighede.

Maar dit kan ’n probleem raak as dit jou lewe verswelg en weghou van persoonlike kontak met mense buite die kuberruim.

Gevaartekens van te veel speel . . .

  • Jy onttrek en ervaar gevoelens van woede, spanning en/of depressie wanneer jy nie toegang tot ’n rekenaar het nie, skryf Jerald Block in The American Journal of Psychiatry.
  • Jy bring minstens 10 uur per dag voor die rekenaar met jou speletjie deur, waarsku Ignacio Lopez, Amerikaanse kenner op die gebied van rekenaargedrag.
  • Wanneer jy speel, verloor jy tred van die tyd, sê Jerald.
  • Jy bou ’n weerstand op. Jy moet heeltyd beter rekenaartoerusting en sagteware kry en wil en ure voor die rekenaar deurbring.
  • Is Minecraft of enige ander rekenaarspeletjie die eerste ding waaraan jy in die oggend dink as jy wakker word of voor jy gaan slaap?
  • Is daar dikwels woedeuitbarstings wanneer iemand jou lastig val terwyl jy speel?
  • Jy jok, skeep jou verpligtinge en vriende af en is pal moeg weens jou speletjiegedrag.

EKSTRA BRONNE: THENEXTWEB.COM, MINECRAFT.NET, DEANGROOM.WORDPRESS.COM, CBSNEWS.COM, BBC.COM, TIME.COM

– Pieter van Zyl