In 2002 het ’n studie getoon tot ’n derde van volwasse vroue ervaar ’n gebrek aan seksuele drange en fantasieë. Maar onlangs is flibanserien, ’n middel wat die vroulike libido aanwakker, deur die Amerikaanse Voedsel-en-medisyne-owerheid (VMO) goedgekeur.

Anders as met Viagra werk dié middel ’n laer libido teen deur die plesiersentrum van die vrou se brein te teiken en nie die geslagsdele nie.

Vroue wat voldoen aan die kriteria vir die “pienk pilletjie” (soos dit genoem word), sal flibanserien daagliks moet inneem – anders as Viagra, wat net voor geslagsgemeenskap geneem word sodat die man danksy ’n toename in bloedvloei na die geslagsdele ’n ereksie kan kry.

Cindy Whitehead, uitvoerende hoof van Sprout Pharmaceuticals (SP), wat flibanserien vervaardig, sê: “Dit gaan dit nie hier oor bloedvloei nie. Begeerte ontstaan in die brein.”

SP het onlangs by die VMO aansoek gedoen dat die gebruik van flibanserien goedgekeur word vir premenopousale vroue wat nie weens ’n siektetoestand of ’n ander geneesmiddel ’n lae libido het nie.

Al het die middel wel oor die algemeen die toets geslaag, moet ernstige newe-effekte soos floutes, lae bloeddruk, mislikheid, moegheid, lomerigheid en slapeloosheid nog uitgeskakel word.

Die VMO se veiligheidsadvieskomitee het reeds ten gunste van die goedkeuring van flibanserien gestem, maar het gestipuleer SP moet sekere stappe doen om die risiko’s te beperk.

Dis reeds die derde keer dat die VMO flibanserien oorweeg; sedert 2010 het hulle dit reeds twee keer afgekeur.

Intussen het SP die veldtog Even the Score van stapel gestuur. Dit kritiseer farmaseutiese owerhede omdat hulle middels goedkeur wat mans se sekslewe verbeter, maar voete sleep wat die goedkeuring betref van middels wat vroue help.

Viagra is ’n reusesukses sedert die VMO dit in 1998 goedgekeur het. Verlede jaar het dit meer as R20 biljoen laat inrol vir die vervaardiger daarvan, Pfizer.

Bronne: cnbc.com, dailymail.co.uk, CNN