As jy nog honger is nadat jy kitskos geëet het, is dit nie noodwendig aan gulsigheid te wyte nie. In ’n onlangse studie is bevind vetterige kos kan die maagsenuwees beskadig wat seine na die brein stuur om aan te dui jy is versadig.

Navorsers aan die Universiteit van Georgia, die Washington State-universiteit en die Birmingham-universiteit verklaar ’n ongesonde dieet kan die balans van bakterieë in die spysverteringskanaal versteur en dit kan daartoe lei dat bakterieë op vet aangewese word vir vermeerdering.

Hoe meer daarvan voorkom, hoe minder goeie bakterieë is teenwoordig om op gesonde kos te floreer.

Eksperimente op rotte het bewys hul brein het deur hoëvet-eetgewoontes verander.

“Wanneer ons die rotte na ’n hoëvet-dieet oorskakel, herrangskik dit die sirkelgang in die brein. Wanneer ’n mens ongebalanseerde kos eet, tree daar veranderings in die brein in. Dit veroorsaak inflammasie in die gedeeltes van die brein wat vir eetgedrag verantwoordelik is. Hierdie herrangskikking van sirkelgange en inflammasie kan seine van versadigheid verander,” het Krzysztof Czaja, van die Georgia-universiteit se kollege vir veeartsenykundige medisyne, verduidelik.

Hy het bygevoeg dat dié wat ’n gesonde, gebalanseerde dieet volg, nie vreemde bakterieë bemerk wat oorbevolk raak en ’n wanbalans veroorsaak nie. Daar is klein verskuiwings wat geringer uitwerkings het, maar die navorsers het onmiddellike veranderings opgemerk sodra hulle die vetryke dieet aan die rotte gevoer het.

“Sommige van die sensitiewe bakterieë begin doodgaan en sommige bakterieë-bevolkings kan selfs verdwyn,” het hy bygevoeg. “Wanneer jy beduidende veranderings in die mikro-omgewing van die spysverteringstelsel bekendstel, sit dit ’n stroom van gebeure aan die gang wat lei tot hierdie omruiling van bevolkings.”

Die span is nog nie seker of die veranderings permanent is nie, maar hulle raai mense aan om nie groot hoeveelhede verwerkte kos te eet nie. Die mensdom was gewoond aan ’n natuurlike, voedsame dieet, maar soos tye verander het, het mense se eetgewoontes ook verander.

Dit is nie gevaarlik om jouself af en toe met ’n wegneemete te bederf nie, maar wees bedag op dit wat jy eet. Hou by jou gewone grootte porsie en moenie dadelik daarna weer eet nie, selfs al grom jou maag – jou maag sal nog meer ontsteld wees as jy begin gewig aansit.

© Cover Media