Navorsers het vasgestel 12 000 gevalle van hierdie 10 kankers wat elke jaar in Engeland aangemeld word, kan aan oortollige gewig toegeskryf word. En as die huidige voorkoms daarvan voortgaan, “kan kanker as gevolg daarvan elke jaar by meer as 3 500 ekstra mense gediagnoseer word”, lui ’n verklaring wat saam met die studie – die grootste van sy soort – in die mediese joernaal The Lancet gepubliseer is.

Die liggaamsmassa-indeks (LMI) is die verhouding tussen ’n mens se gewig in kilogram teenoor jou lengte in vierkante meter. Iemand met ’n LMI van 25 tot 29,9 word as oorgewig en 30-plus word as vetsugtig beskou.

“Daar was ’n duidelike verbind tussen elke 5 kg/m²-toename in LMI en die verhoogde risiko vir kanker van die baarmoeder (toename van 62 persent), galblaas (31 persent), nier (25 persent), serviks (10 persent), skildklier (9 persent) en leukemie (9 persent),” lui die verklaring.

’n Hoër LMI het ook die algehele risiko verhoog vir lewerkanker (19 persent), kolonkanker (10 persent), eierstokkanker (9 persent) en borskanker (5 persent), hoewel hierdie vier soorte kanker deur ander faktore beïnvloed is.

Selfs mense met ’n normale lengte-gewig-verhouding maar met ’n hoë LMI-syfer het ’n hoë risiko vir die kankers, het navorsers bevind. Tog is diegene met ’n hoë LMI se risiko vir prostaat- en premenopousale borskanker laer.

Navorsers het pasiënte se rekords op ’n nasionale datanetwerk gebruik en 5,24 miljoen individue van 16 en ouer geïdentifiseer wat kankervry was toe hulle die eerste keer geregistreer is. Hul gesondheidstatus is gemiddeld 7,5 jaar lank gevolg, waartydens byna 167 000 mense in die groep die een of ander soort kanker ontwikkel het.

“Daar was baie variasies wat die invloed van LMI op verskillende kankers betref,” sê die studieleier, Krishnan Bhaskaran, van die Londense skool vir higiëne en tropiese medisyne.

“Die risiko vir baarmoederkanker het byvoorbeeld beduidend toegeneem onder vroue met ’n hoër LMI. Met ander kankers het ons geringe toename in die risiko of geen uitwerking gesien nie. Vir sommige kankers, soos baarmoederkanker onder jonger vroue wat nog nie menopouse beleef het nei, het dit selfs gelyk of daar ’n laer risiko is onder diegene met ’n hoër LMI.”

Die span navorsers het gesê in Engeland is oortollige gewig die oorsaak van 41 persent van baarmoederkanker en 10 persent of meer van kanker van die galblaas, niere, lewer en kolon.

In kommentaar op die bevindinge het Peter Campbell van die Amerikaanse Kankervereniging in Atlanta beklemtoon hoe noodsaaklik beleidsveranderinge is om oortollige gewig en vetsug – ’n probleem wat wêreldwyd toeneem – te beveg.

Dit kan insluit dat belasting gehef word op kosse soos suikerbelaaide drankies, wat baie kalorieë maar min voedingswaarde bevat, toelae vir gesonder alternatiewe en stedelike beplanning wat mense aanmoedig om te stap en ander oefeningsoorte op die proef te stel.

Daar is vroeër in nog ’n studie in The Lancet berig dat twee uit vyf Amerikaanse volwassenes tipe 2-diabetes sal ontwikkel – ’n siekte wat hoofsaaklik veroorsaak word deur ’n onaktiewe leefstyl en oortollige gewig. Oorgewig mense het ook ’n hoër kans om hartsiektes en beroertes te kry.

Daar is in ’n onlangse wêreldwye ontleding bevind ’n derde van volwassenes en ’n kwart van die wêreld se kinders is oorgewig.