Navorsers aan die Purdue-universiteit in Indiana, Amerika, het bevind wanneer ’n mens ’n eier, wat ’n bron van dieetkundige lipiede is, by rou slaai voeg, verhoog dit die karotenoïede in die liggaam. Daar is bevind dat karotenoïede, insluitend betakarotien, likopien, luteïen en seaxantien, die risiko vir siekte verlaag, veral in die geval van sekere kankersoorte en oogsiektes.

Die studie, gepubliseer in die American Journal of Clinical Nutrition, het ’n groep mans betrek wat drie verskillende variasies van ’n slaai geëet het. Die een variasie het geen eiers bevat nie, die tweede het een en ’n halwe eier bevat en die derde drie eiers. Daarna is hul karotenoïede gemeet.

Die mans wat eiers in hul slaai gehad het, het hoër vlakke van karotenoïede getoon. Die deelnemers wat drie eiers geëet het, het die meeste karotenoïede gehad. Maar die navorsers meen twee eiers is genoeg om ’n beduidende verskil maak.

Stukkies gekookte eier gee nie net die slaai ’n ander tekstuur en massa nie; dit maak die hele maaltyd heilsamer.

Tamatie, wortel, patat en blaarryke groen groentes, soos kool en spinasie, is die vrugte en groente wat die meeste karotenoïede bevat.

Rooi groenrissies, botterskorsies en pietersielie is ook goeie keuses vir slaai, want dit bevat die organiese pigmente.

Avokado’s is ook ’n bron van karotenoïede. As ’n mens dus die vlesige groen vrugte soggens by eiers en tamaties voeg, is jy verseker van een van die gesondste maniere om jou dag mee te begin.

© Cover Media