Oefening is waarskynlik die belangrikste voorbereiding as jy meer as 41 km op een slag moet hardloop.

Maar daar is ook ’n paar handige toestelle wat jou aan die gang kan hou. Ons het ’n lysie van die belangrikstes saamgestel sodat jy kan weet jy is in beheer wanneer jy wegspring.

Horlosie

Jy sal waarskynlik graag wil kyk hoe jy vaar terwyl jy hardloop. Daarom is dit ’n goeie idee om in ’n liggewig horlosie te belê waarop jy die tyd kan kyk en kan loer of jy op pad is om jou persoonlike beste te klop. As jy dit soos ’n ware professionele maratonatleet wil doen, kan jy ’n horlosie kry wat met GPS toegerus is sodat jy jou afstand ook kan dophou. Daar is selfs toestelle wat die afstand wat jy afgelê het, na vriende en familie se selfoon sal stuur sodat hulle kan sien hoe jy vaar.

Pet

Dit gaan ’n sweterige affêre raak, en as jy nie heeltyd die sweet van jou wenkbrou wil afvee of voel hoe die sweet in jou oë beland nie, moet jy ’n sportpet met hoë absorpsie kry. Oorweeg een met weerkaatsende materiaal sodat jy sigbaar is wanneer dit donkerder raak.

Die regte bra

Dié een is vir die vroue – jy het ’n goeie bra nodig om jou borste te ondersteun en rug- en borspyn te verminder. Jy kry selfs bra’s met ’n sakkie vir jou foon of iPod.

Vermy skaafplekke

Daar’s niks erger as ’n geskaafde vel wanneer jy lang afstand hardloop nie; daarom moet jy belê in ’n liggewig kortbroek om onder die res van jou klere te dra. Kies een wat gemaak is van ’n materiaal wat nie sal optrek nie en met ’n gemaklike lyfband.

Klere wat droog bly

Jy gaan baie sweet en het sportdrag nodig wat dit kan hanteer. Kies items met spesiale droogbly-tegnologie om vog te absorbeer en jou koel te hou.

Bly gehidreer

Dis belangrik om seker te maak jy drink genoeg vloeistowwe tydens die marathon. Oorweeg dit om oplosbare tablette te kry wat elektroliete verskaf om jou ’n hupstoot te gee. Daar is produkte wat nie suiker bevat nie.

Sonbril

As jy gaan hardloop terwyl dit sonnig buite is, gaan jy beslis die lig uit jou oë wil hou. Maar ’n goedkoop sonbril sal nie deug nie – jy het ’n spesiale sonbril nodig. Kies een met sterk neusklemme sodat dit nie afgly wanneer jy sweet nie en maak seker dit het lense wat nie sal opwasem nie.

© Cover Media