Daar is reeds waarskuwings oor die uitwerking wat slimfone en tablette op ons het, want kenners beweer dié toestelle kan die geheue ontwrig en ’n mens snags wakker hou.

Nou is in navorsing bevind jong mense sukkel met rugpyn en ’n seer nek weens die gebruik van tegnologie; dit word die “sittende epidemie” genoem.

Die Britse chiropraktiese vereniging (BCV) het bevind die aantal mense onder 30 wat mediese hulp soek, neem toe, en hulle glo dis te wyte daaraan dat dié mense tot 10 uur per dag na ’n skerm staar terwyl hulle sit. Sowat 45 persent van die mense onder 30 wat as deel van ’n groep van meer as 2 100 Britte ondervra is, het gesê hulle sukkel met nek- en rugpyn, vergeleke met 28 persent verlede jaar.

Nou is in navorsing bevind jong mense sukkel met rugpyn en ’n seer nek weens die gebruik van tegnologie; dit word die “sittende epidemie” genoem.

Intussen het 86 persent, in alle ouderdomsgroepe, daaroor gekla – dis 77 persent meer as in 2014.

Navorsers glo dis te wyte daaraan dat toestelle kleiner word, wat beteken ons moet ons kop laer buig om daarna te kyk, asook die feit dat talle kantoorwerkers deesdae daagliks van lessenaar tot lessenaar beweeg, wat veroorsaak dat hulle in swak verstelde stoele sit.

Tim Hutchful, ’n chiropraktisyn by die BCV, wat deel van die studie was, is bekommerd oor die aantal jong mense wat om hulp aanklop. Hier is sy raad oor hoe ’n mens sulke probleme kan vermy.

“Of jy by jou lessenaar sit, op jou tablet werk of TV-kyk, dis baie belangrik om gereeld ’n blaaskans te neem om die spanning te verlig wat opbou in jou laer rug. Om te sit veroorsaak twee keer meer druk op skyfies in jou ruggraat as om te staan; daarom is ons as ’n nasie baie kwesbaar,” het hy in die bevindings gesê. “Jou rug is altyd hard aan die werk, selfs wanneer jy dink jy ontspan.”

Die beste is om jou bene te strek, wanneer jy ook al kan, verkieslik elke halfuur, en om jou selfoon hoër te hou sodat jy nie jou kop moet afbuig nie. Jy gaan dalk snaaks lyk vir ander, maar jy sal laaste lag wanneer jy besef watter verskil iets so eenvoudigs kan maak.

Dieselfde geld jou rekenaarskerm: jy moet seker maak die skerm en jou kantoorstoel is op die regte vlak; jou wenkbroue moet op dieselfde hoogte as die boonste deel van jou skerm wees.

Om dinge tuis makliker te maak wanneer jy pyn ervaar, kan jy seker maak jy slaap op ’n ferm kussing wat ondersteuning bied. En as jy weg van die kantoor af is, loop regop en vermy dit om jou nek in ’n ongemaklike posisie te draai.

© Cover Media