Verslanking hoef nie tydrowend en ingewikkeld te wees nie, het dr. Brian Wansink aan die Britse koerant The Daily Mail gesê.

Hier is van sy topwenke oor hoe om die vetjies moeiteloos te laat wegsmelt. Hy het die plan saamgestel nadat hy onder meer die gedrag en inhoud van tienduisende eters se ys- en koskaste ontleed het. Tesame met gereelde oefening sal jy vinnig veranderinge sien.

Koop slim

Alles begin tydens kosinkopies. Brian se eerste pêrel van wysheid is om nie met ’n leë maag kos koop nie, want dan kies jy alles waarvoor jy lus het.

Die koslus kan ook toeslaan wanneer jy versadig is; daarom beveel hy aan jy kou kougom terwyl jy in die supermark is.

“Ons ondersoeke toon vars kruisementsmaak kan kosdrange verminder en dit moeiliker maak om jou in te dink hoe lekker krakerige skyfies of romerige roomys sal wees,” sê hy. “Een stuk kougom is genoeg om jou aankope van gemorskos met tot sewe persent te besnoei.”

Hy stel ook voor jy bepaal ’n vaste roete en begin met net vrugte en groente in jou trollie of mandjie, want dit sal aanlokliker lyk sonder iets langsaan. Verdeel jou drasak in afdelings vir wat jy nodig het.

Teenstellende kleure

Brian het 60 vrywilligers vir ’n gratis middagete van pasta genooi. Die deelnemers het ’n rooi of wit bord gekry en kon tussen ’n tamatie- of roomsous kies.

Nadat hulle kos ingeskep het, is elkeen se bord geweeg. Daar is bevind die mense het 18 persent meer kos ingeskep wanneer die koolhidrate dieselfde kleur was as die bord waaruit hulle geëet het as wanneer die koolhidrate ’n teenstellende kleur was.

’n Mens kan ook ’n kleiner bord of bak gebruik as jy minder wil eet.

Steek oorskiet weg

As jy genoeg gekook het vir vyf porsies, maar julle is net twee, sorg dat jy die oorskiet wegsit. Brian wys daarop jy kan 19 persent minder eet as die kos buite bereik is.

Wanneer ekstra kos maklik bereikbaar is, is mense geneig om aan te hou skep, selfs al is hulle nie honger nie. Hy stel voor jy sit groot porsies slaai en groente eerste voor en hou dit waar jy dit kan sien, maar bêre die res van die kos nadat jy dit voorgesit het.

Moenie buffets vermy nie

Dit klink dalk of dit teen die vorige punt indruis, maar jy hoef nie ’n uitnodiging na ’n buffet van die hand te wys as jy probeer gewig verloor nie.

Nadat navorsers die eetgewoontes by ’n Chinese restaurant bestudeer het, het hulle bevind oorgewig mense is twee keer so geneig om ’n groot bord te kies en dit vol te pak voor hulle by ’n tafel naby die kos gaan sit.

Maerder mense het gewoonlik die buffet “verken”, hul gunsteling-kosse op ’n kleiner bord geskep en verder weg van die toonbanke gaan sit.

Hulle het hul kos ook drie keer meer gekou as die gesetter mense – elke mond vol 15 keer voor hulle dit insluk. Dit is natuurlik net ’n voorbeeld van een restaurant, maar dit is dalk die moeite werd om in gedagte te gou wanneer jy weer op ’n plek is waar jy soveel kan eet as wat jy wil.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou