Dit is nou wel normaal om effens minder ekstaties te voel as op ’n Vrydagaand, maar as jy uiterste vlakke van vrees en angs ervaar, ly jy dalk aan Sondagaand-slapeloosheid, oftewel “Sondagsomnia”.

Hoe weet jy of jy een van die groot klomp werkende mense is wat altyd aan die einde van die naweek hierdie toestand die hoof moet bied? Een van die sekerste tekens is as jy sukkel om aan die slaap te raak. Baie van ons slaap in elk geval aansienlik minder as die aanbevole agt uur, en jy kan vind dis Sondagnagte nog minder. Intense angs of ’n gevoel van naderende onheil is nog ’n teken. Selfs die gedagte aan pendel gee party mense ’n kwaai knop op die maag. Tune Hotels Group het onlangs in navorsing bevind 10 persent van alle Britte bekommer hulle op ’n Sondagaand al oor die rit werk toe wat wag.

Dit kan ook jou werk wees wat jou laat stres.

Dit kan ook jou werk wees wat jou laat stres. Dalk tref dit jou Sondagaand dat ’n ongemaklike vergadering met jou baas voorlê, of jy onthou van die voorlegging wat jy in die komende week moet doen.

Hoe kan jy jou teësit teen hierdie gevoel en die week kalm en verfris tegemoetgaan? Dit is nou wel nie eintlik ’n aanloklike gedagte nie, maar dit is beter as jy Vrydag soveel moontlik van jou doenlysie kan aftik. Die wete dat jy goed voorberei is vir Maandagoggend, sal jou opgeruimder laat voel wanneer jy die kantoor verlaat. Beplan ’n beloning om jou te motiveer: uiteet saam met vriende of ’n glas rooiwyn wanneer jy by die huis kom.

Werk aan jou Sondagaand-ingesteldheid. Pleks van te stres, aanvaar eenvoudig dinge en besef jy kan niks doen aan die feit dat die week nader kom nie. Konsentreer dan op dit waaroor jy beheer het, soos hoe jy Maandag een van die take gaan aanpak wat vir jou voorlê. Doen dit ’n hele paar uur voor jy gaan slaap in ’n bepaalde tydgleuf wat jy daarvoor opsygesit het, en besluit daarna om dit tot die volgende dag uit jou gedagtes te sit.

Dit help ook as jy heeltemal ontspanne is wanneer jy wel bed toe gaan. Eet iets ligs, liefs voor 19:00, en bestee dan ’n paar uur aan iets waarvan jy hou en wat jou laat ontspan. Jy kan byvoorbeeld na 'n rolprent kyk, skilder, lees of mediteer. Daarna kan jy op jou tyd stort of bad en ’n klompie asemhalingstegnieke toepas.

As alles goed gaan, sal jou nuwe week eindelik op ’n hoogtepunt kan begin!

© Cover Media