Dit kan egter makliker gesê as gedoen wees wanneer die werkdruk toeneem – hetsy spertye, of om ’n belangrike vergadering te lei of om met ’n moeilike kliënt of kollega te doen te kry. Dit kan ons oorweldig, gestres, angstig, uitgeput en geïrriteerd laat voel. Al hierdie emosies kan jou produktiwiteit beïnvloed. Dit kan op sy beurt weer die gevoelens vererger en sodoende ’n bose kringloop tot gevolg hê. Hoe kan jy dit oorwin? Mind Body Green het gelukkig ’n paar puik wenke oor hoe om innerlike vrede by die werkplek te kry.

Staan vroeër op

Jou dag begin sommer op ’n swak noot as jou wekker gestel is om op die allerlaatste te lui en jy jou dan moet haas om by die werk te kom. As jy gejaagd is, het jy nie daardie helderdenkende gevoel wat jy nodig het om die dag se take mee aan te pak nie. Staan dus ’n bietjie vroeër op, geniet ’n ontspanne ontbyt, en, as jy ’n rukkie van “net jou” gehaltetyd agter die rug het, kan jy die volgende agt ure makliker aan die eise van jou base/werkgewers voldoen.

Geniet ’n stort

Onder ’n egalig vloeiende stort kan jy jou gedagtes elke oggend lekker orden en jou dag se verloop uitwerk. As jy verkies om in die aand te stort, kan jy dit visualiseer as ’n manier om die stres van die dag af te spoel en om jou gereed te kry vir die uitdagings wat kom.

Pak groot take vroeg aan

Pak die grootste uitdaging van die dag vroeg aan, wanneer jy nog fris en vars is. Dit beteken ook dat jy nie heeldag daaraan sal hoef te dink nie. Moet egter nie alles op een slag probeer doen nie. Breek dit in meer hanteerbare stukkies op wat jy een-een deur die dag kan takel totdat alles uiteindelik klaar is.

Laat jou rustye saak maak

Hoe dikwels besoek jy in jou etenstyd die sosiale media op die internet, speel jy ’n selfoonspeletjie of gebruik jy die internet vir ’n inkopietog? Jy doen dit moontlik dikwels, maar op hierdie manier trek jy nie die meeste voordeel uit jou rustyd nie. Indien jy heeldag op die rekenaar werk, sal jy, as jy ’n tyd lank wegbreek van die skerm af, in die namiddag kalm en rustig voel.

Omring jou met die regte mense

Lekker geselskap by die werk is nou wel aangenaam, maar as jy te veel tyd saam met mense deurbring wat jou aandag dikwels aftrek of wat gestres is, kan jy angstigheid en die gewoonte om uit te stel, absorbeer. In plaas daarvan kan jy probeer om tyd deur te bring saam met mense wat ontspanne en oopkop is. Hopelik sal hulle goeie gewoontes dan in jou eie werk weerspieël word.

© Cover Media