Akademici aan die Universiteit van Illinois het onlangs bevind eiergeel kan ook die brein help gesond hou. Eiergeel en blaargroente bevat die proteïen luteïen, en navorsers het bevind dit help skoliere aansienlik met die uitvoering van take en selfs skriftelike toetse.

Twee eksperimente is uitgevoer. In die eerste het die navorsers die vlakke van breinaktiwiteit en oogluteïen van byna 50 kinders tussen agt en 10 jaar oud gemeet. Die kinders met hoër pigmentvlakke het beter gevaar in ’n bepaalde kognitiewe taak en daar was nie ’n breinpiek tydens die aktiwiteite nie.

“In hierdie geval lyk dit of kinders met meer luteïen in die oë beter gevaar het. Hulle het minder kognitiewe betrokkenheid nodig gehad om die taak doeltreffend uit te voer,” het die navorser Anne Walk gesê.

Daarna het ’n toetsgroep van agt- tot negejariges gestandaardiseerde akademiese toetse skriftelik afgelê. Weer is bevind die kinders met hoër luteïenvlakke het ondanks ander faktore beter gevaar het as dié met laer vlakke. 

“Al hierdie faktore – hoe fiks hulle is, hul IK, sosio-ekonomiese status, liggaamsmassa-indeks en die hoeveelheid luteïen in hul oë – verduidelik saam ongeveer die helfte van die wisselende vermoëns van die deelnemers.

“As jy luteïen buite rekening laat, raak jou vermoë om ’n kind se prestasie te bepaal minder akkuraat,” het prof. Naiman Khan gesê.

Broccoli, spinasie, krulkool, mielies, oranje rissies, kiwivrugte, druiwe, lemoensap, murgpampoentjies, skorsies en eiergeel bevat almal baie luteïen.

Naiman het ook opgemerk die studies bewys nie luteïen is alleen verantwoordelik vir die verskille in prestasie nie; dis bloot ’n “eerste stap in die begrip van die moontlike rol van luteïen as

’n voedselkomponent wat in die kinderjare belangrik kan wees by kognisie”.

Die volledige studie is in die International Journal of Psychophysiology gepubliseer.