Dit klink dalk uitdagend, maar daar is maniere om die oorgang makliker te maak en te sorg jy kry al die nodige voedingstowwe in.  

Begin met ’n klein verandering soos om soggens warm water met suurlemoensap in te drink. Dit gee blykbaar jou metabolisme ’n hupstoot en laat jou vinniger versadig voel. Algaande kan jy nog ’n klein aanpassing byvoeg soos om ’n vitamien C-tablet met ontbyt te drink.

Vereenvoudig dan die proses om verskillende kosse te eet. Voeg liewer nuwe kosse by jou dieet as om sekere kosse heeltemal te vermy. Verruil ’n sjokolade-fudge-stafie vir donker sjokolade en maak twee blokkies daarvan jou oordaad deur die week. En wanneer die naweek aanbreek, hoef jy nie te huiwer om jouself te bederf nie. Mense wat hulself af en toe iets lekkers veroorloof, het trouens ’n groter kans om gewig te verloor as dié wat dit nie doen nie.

Jy kan maklik voor die versoeking swig wanneer jy jou weeklikse inkopies doen, veral as jou wilskrag taan wanneer jy honger is. Die gesondste en varsste produkte word dikwels aan die buiterand van die winkel gepak, maar daar is uitsonderings. Probeer nie onnodig in gange af wandel waar jy niks nodig het nie en hou by jou lysie. Sodoende sal jy nie doelloos ronddwaal en na gelang van jou luim koop nie.

Nog ’n klein verandering wat jy kan maak, is om meer water te drink. Verruil ’n glas sap vir ’n halwe liter water. Jou vel sal helderder raak en jy sal meer gehidreer en minder honger voel. Baie van ons verwar dors met honger en peusel dan meer. Meer water sal daardie probleem oplos.

Gesonde kos kan heerlik wees. Volg nuwe resepte wanneer jy maaltye kook. En ’n verandering hier en daar kan wondere verrig – speserye en kruie gee kos altyd skop. Berei meer kos as wat jy nodig het sodat jy daarvan vir later kan bêre. So sal jy op ’n ander dag een ding minder hê om te doen ná ’n dol dag by die werk.

© Cover Media