Dit is doodnormaal dat ’n mens party dae rasend honger sal wees, maar wat gebeur as jy elke dag nie kan wag vir die volgende maaltyd nie en dan nog tussenin peusel? Mense se aptyt verskil, maar daar kan ’n werklike rede wees waarom jy net nooit versadig voel nie. Kom ons bekyk ’n paar moontlikhede.

Die kos wat jy eet, kan in der waarheid ’n oorsaak wees, veral as jy dikwels verfynde produkte inneem. Enigiets wat jou bloedsuiker tot ’n spits laat styg, sal onvermydelik tot 'n ineenstorting lei en jy sal kort daarna selfs hongerder voel. Skakel die verwerkte kosse uit en bly weg van kos soos witbrood en peuselhappies wat propvol suiker is. Verfynde voedselsoorte kom misleidend bevredigend voor, maar volgraanprodukte en kos wat mono-onversadigde vette bevat, werk stukke beter om jou versadig te hou.
Probeer om die dag se happies vooraf te berei sodat hulle binne maklike reikafstand is in die kantoor of tydens lesings.

Probeer om die dag se happies vooraf te berei sodat hulle binne maklike reikafstand is in die kantoor of tydens lesings. Dink in die rigting van rogbrood met avokado, ’n hand vol neute of ’n hardgekookte eier.

Jy kan dalk net eenvoudig ’n vinnige metabolisme hê. Hoewel dit nuttig is om jou gewig laag te hou, beteken dit ook dat jy baie hongerder sal wees as mense met ’n stadiger metabolisme. Streef daarna om jou kilojoule-inname rondom 628 kJ per dag te hou en maak seker dat dit in die vorm van vrugte, groente en ander gesonde voedselsoorte ingeneem word. Jy sal hopelik jou maag kan stilkry sonder dat jy uitermate baie eet.

Moontlik is jy nie regtig honger nie. Baie van ons eet wanneer ons verveeld is of bedruk voel. Dit lei natuurlik tot onnodige voedselinname en ’n middellyf wat uitsit. As jy gedurig vaal van die honger is en jou gewig hou aan toeneem, is dit dalk tyd dat jy jou behoefte aan voedsel heroorweeg. Teken aan watter tyd van die dag jy lus het om te peusel. As dit in die stil tye by die werk is of terwyl jy wag dat jou maat huis toe kom, is die oorsaak moontlik verveeldheid. Drink ’n groot glas water of ’n koppie kruietee en probeer dan iets anders doen.

As jy natuurlik erg bekommerd is oor jou gewig of jou eetgewoontes, reël ’n afspraak met jou dokter sodat hy/sy jou hormoonvlakke kan toets en ander gesondheidsprobleme kan ondersoek.

© Cover Media