Mense gebruik dwelms omdat dit hulle fantasties laat voel. Maar hulle het nie 'n benul van die enorme breinskade wat die nuwe soorte dwelms kan aanrig nie. Ook dokters en psigiaters begin nou eers dié skade op breinskanderings sien

Van die toppunt van ekstase tot in die dieptes van die hel. Binne 'n oogwink. En dan: Breinskade vir die res van jou lewe.

Dis wat die jongste straatdwelms aan jou kan doen.

En selfs ná jy opgehou het daarmee, kan hierdie dwelms die delikate weefsels van jou brein verskroei, sodat jy verander in 'n monster wat tot die allerverskriklikste geweld in staat is. Of net in 'n donker moeras van depressie versink waaruit NIKS jou weer sal kan verlos nie.

Maak nie saak watter dwelm jy beproef nie, al is dit net vir één aand se rave, jy kan maar weet jy speel met vuur. Dit wat jy daar rook of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein met die geweld van 'n weerligstraal tref.

Dis nie sedebewakers, onderwysers en predikante wat só sê nie. Dis geharde polisiemanne, chemiese wetenskaplikes en psigiaters wat die uitwerking van dié dwelms met verbystering aanskou.

Vergeet maar alles wat jy gedink het jy van dwelms weet. Niks kan jou voorberei op die verskrikking wat nou deur charlie en rock, crystal, hot ice, china white en liquid ecstasy gesaai word nie.

En dis nie elders nie, dis hier, in doodgewone buurte, in ons skole en universiteite waar dit gebeur onder gewone tieners wat net pret wil hê en grootmense wat van beter behoort te weet.

Die hippies en dwelms van 'n vorige era begin soos 'n kindertuin lyk. Vandag se dwelms is soveel kragtiger, werk soveel intenser op jou in, bring jou tot ekstatiese hoogtepunte van euforie en energie, en slinger jou daarna in die dieptes neer. Dis nie verniet dat hulle sê jy 'crash' nie.

Tot dusver het niemand geweet watter verwoesting hierdie chemiese geweld in jou brein saai nie. Nou begin ons weet. En dis 'n skrikwekkende gesig.

  • Psigiaters sien die skisofreniese wrakke wat voor hulle sit.
  • Verloskundiges staan met babas wat met hul derms buitekant hul lyfies gebore is.
  • Polisiemanne hanteer die slagoffers van meedoënlose misdade.
  • Neuroloë peil met die jongste tegnologie vir die eerste keer werklik die omvang van die breinskade wat aangerig is.

As jy dink dít is erg, dan moet jy jou staal vir die volgende dwelmgolf wat die land gaan tref, sê superintendent Casper Venter van die SAPD se forensiese laboratoriums.

Daar is die dwelm yellow honey, 'n dodelike nuwe vorm van marijuana, wat sewe keer sterker as gewone dagga is en tot 'n "inploffing" in jou brein kan lei.

Dit het onlangs in Los Angeles kop uitgesteek. Die SAPD se narkotikaburo voorspel dat dit binnekort in Suid-Afrika vastrapplek kan kry en dat dit die tikprobleem na 'n piekniek gaan laat lyk.

Plaaslike dwelms is nie veel veiliger nie. 'n Mens het geen idee van wat werklik in daardie middels skuil wat êrens in 'n toilet, huis of pakkamer vervaardig word nie.

Straatdwelms word dikwels met die hoogs verslawende heroïen gemeng om te verseker dat jy fisiek afhanklik raak.

Mense besef ook nie altyd hoe gekonsentreerd straatdwelms kan wees nie; dis soms tot 1 500 keer meer as die dosis wat die liggaam met veiligheid kan hanteer.

Dis soos om vuurpylbrandstof in 'n stokou kar te gooi.

Dis ook moontlik dat straatdwelms skadelike onsuiwerhede kan bevat. 'n Voorbeeld is 'n chemiese stof in Mandraxpille wat longkanker kan veroorsaak.

Op die spoor van dwelmgebruik volg die misdade wat daarmee saamhang.

"Ons sien ál meer dat as iemand vermoor word, hy nie een keer gesteek of geskiet word nie, maar sommer sestig keer. Tikgebruik verander die chemiese werking van die brein en stomp die verbruiker af.

Om iemand te verkrag of dood te maak, is vir hom niks nie," sê Casper.

Die nege algemeenste straatdwelms

Die middels wat hier bespreek word, is onwettig en word gelys in die Dwelmwet, Wet 140/92.

Die algemeenste straatdwelms wat in Suid-Afrika misbruik word, kan geklassifiseer word volgens hul uitwerking op die brein.

Daar is drie hoofklasse:

  1. Opkikkers (stimulante),
  2. Onderdrukkers (depressante)
  3. Hallusinogene (wat jou vreemde dinge laat ervaar).

OPKIKKERS (STIMULANTE)

Hieronder tel kokaïen, crack, Ecstasy, tik, crystal meths, amfetamiene, efedrien en Khat. Dié middels stimuleer die brein en verhoog die hartklop. Jong mense gebruik dit om hulle sterker en meer energiek en doelgerig te laat voel.

Tipiese tekens van die gebruik van stimulante is 'n kleiner eetlus, hope energie, slapeloosheid, vergrote pupille, spraaksaamheid, prikkelbaarheid, angs, hiperaktiwiteit, skielike buiveranderings, ongeduld en senuagtigheid.

1. Kokaïen

Straatname

Blow, charlie, coke

Dié dwelm, wat jou verstand beïnvloed, word van die kokabos in Peru, Bolivia en ander bergagtige lande vervaardig en was eens die glansdwelm van die rykes en bekendes, maar deesdae eksperimenteer ál meer kinders daarmee.

Die hemel:

'n Gevoel van opgewektheid, euforie, hiperaktiwiteit, selfvertroue, verhoogde bewustheid en onbeperkte energie.Dié opwelling vind plaas vyf tot tien minute nadat die kokaïen gesnuif is.

Die hel:

Party gebruikers ervaar hoofpyn, bewerigheid, angstigheid en slapeloosheid ná 'n enkele dosis. Groter dosisse kan tot 'n gekners van die tande en kompulsiewe gedrag soos 'n gekrap en vingergetrommel lei. Gebruikers kan stemme hoor en hewige vervolgingswaansin kry. Hulle kan angstig voel, irrasioneel dink en ook aggressief word. 'n Oordosis kan rukkings, paniekaanvalle, hartversaking, beroerte, asemhalingsprobleme en die dood veroorsaak.

Uitwerking op die liggaam:

Jou polsslag en bloeddruk styg en jou pupille vergroot. Mettertyd sal jy uitgeteer lyk, jou seksdrif sal afneem en jy sal gereeld verkoue en 'n loopneus kry.

Kortliks: Jy sal verskriklik gehawend lyk. Kokaïen is sielkundig en fisiek verslawend. As die euforie eers verby is, smag gebruikers na nog stimulering.

Uitwerking op die brein:

Kokaïen meng in met die natuurlike afskeiding van dopamien en serotonien, die brein se chemiese boodskappers wat jou lekker laat voel. Dit veroorsaak ophopings van hierdie breinoordragstowwe en gee aanleiding tot die welbekende "kruin"wat gebruikers ervaar. Die vreesaanjaende feit is egter dat kokaïen die breinoordragstowwe uiteindelik so kan uitput dat dit depressie, apatie, moegheid, angstigheid en selfmoordneigings kan veroorsaak wat maande kan duur.

As die uitputting algeheel en blywend is, sal selfs die beste antidepressante nie werk nie en jy kan dalk nooit in staat wees om uit dié donker dieptes te ontsnap nie.Jy kan ook Parkinson se siekte ontwikkel wat jou op 'n vroeë leeftyd soos 'n bejaarde sal laat bewe.

2. Crack

Straatname

Rocks, freebase

Crack is 'n goedkoop vorm van kokaïen wat deur bymiddels in rookbare rocks omskep word. Dis 'n gekonsentreerde vorm van kokaïen en om op te hou, is drie keer moeiliker as met ander dwelms.

Die hemel:

Jy voel welgeluksalig, opgewek en eufories. Die hoogtepunt is intens, maar duur maar 'n rapsie meer as tien minute.

Die hel:

Die gevoel van euforie word vinnig opgevolg deur net so 'n intense gevoel van depressie, wat die behoefte skep om weer en weer te rook. Dié siklus van kruine en insinkings lei tot 'n verslawing wat vinniger as enige ander dwelm posvat. Die risiko van 'n oordosis is ook baie hoog.

Uitwerking op die liggaam:

Dieselfde as kokaïen, maar intenser. Gebruikers kan "sneeuligte" of stralekranse sien. Hul polsslag kan onreëlmatig raak, wat 'n hartaanvalrisiko verhoog.

Uitwerking op die brein:

Omdat dit gerook word, bereik 'n hoë dosis die brein binne minder as tien sekondes – met 'n vyf tot tien keer hoër konsentrasie as kokaïen (wat gesnuif word). Dit verander die biochemiese toestand van die brein en put die voorraad van dopamien en serotonien, twee goedvoel-oordragstowwe, uit.

Hierdie skade kan blywend wees, wat tot voortdurende paranoia, selfmoordneigings en depressie, of hewige woedeaanvalle kan lei.

3. Ice

(KRISTALMETAMFETAMIEN)

Straatname

Crystals, crystal, meth, rock, candy, batu, glass, LA glass, super ice, hot ice, LA crystal, Hawaiian salt

Hierdie nuwer vorm van gekristalliseerde metamfetamien is byna 100 persent suiwer. Dis reukloos, word in glaspype gerook en is dodeliker as crack en kokaïen en blykbaar verslawender.

Die hemel:

Rokers voel binne sekondes 'n intense opwelling van fisieke en geestelike opwinding. Die uitwerking kan van vier tot veertien uur aanhou.

Die hel:

'n Intense angs- en depressiegevoel, slapeloosheid, moegheid en uiteindelik raak jy die kluts kwyt. 'n Toestand soortgelyk aan paranoïese skisofrenie kan ook op swaar gebruik volg.

Uitwerking op die liggaam:

Gebruikers het groter en groter dosisse nodig vir dieselfde kruin. Langdurige gebruik beskadig die longe, lewer en niere.

Uitwerking op die brein:

Breinskade soos met tik, maar in 'n nog erger graad.

4. Ecstacy

Straatname

XTC, e, Adam, MDMA

Ecstasy is 'n "rave"- of "paartie''-dwelm en word dikwels gebruik om nagdeur te kan dans. Dis 'n saamgeflanste dwelm of dwelmkonkoksie, soos tik. Hoekom het dit so 'n cool naam? Omdat metieleendioksiemetamfetamien (MDMA) vir selfs die mees gesoute dwelmslaaf een te veel sal wees.

Die hemel:

Daar is 'n verhoogde gevoel van plesier, verhoogde selfvertroue en hope energie, vreedsaamheid, aanvaarding en empatie. Die kruin-fase duur tussen vier en ses uur.

Die hel:

Gebruikers kan onduidelik sien, baie sweet en op hul tande kners of die binnekant van hul wange byt. Hulle kan begin ruk, naar voel, opgooi en epileptiese aanvalle kry. Gereelde of langdurige gebruik of groot dosisse kan jou in 'n hoogs depressiewe, paranoïese mens verander wat angsaanvalle kry.

Uitwerking op die liggaam:

Ecstasy kan selfs in klein dosisse gevaarlik wees vir mense met hartsiektes en asma. Groot dosisse kan tot oorverhitting van die liggaam en brein, waterterughouding, beroerte en hartaanvalle lei.

Uitwerking op die brein:

Ecstasy beïnvloed jou brein deur minstens drie brein-oordragstowwe te laat toeneem (serotonien, dopamien en norepinefrien) en wanneer dit hierdie voorraad uitput, veral die serotonienvoorraad, is ernstige depressie gewoonlik jou voorland.

Psigiaters sê hulle sien al meer hoe Ecstacy-gebruikers se kop uithaak en hulle blywende breinskade kry.

GEVAAR:

Baie saamgeflanste straatdwelms of dwelmkonkoksies (met die misleidende naam designer drugs) word aan naïewe of desperate gebruikers verkoop as heroïen- of kokaïen-plaasvervangers. Omdat jy nie weet wat jy koop nie, is die gevaar groot dat jy 'n oordosis kan inkry.

5. Metamfetamien

Straatname

Tik, tik-tik, crystal, meth, crystal meth, crank, uppers, speed

Tik is 'n dwelmkonkoksie en word verkoop as poeiers, pille en kapsules wat gesnuif, gerook of ingespuit word. Dit kan tuis gemaak word uit medisyne wat oor die toonbank te koop is.

Die hemel

Net soos kokaïen en crack lei tik tot 'n toename in wakkerheid en meer energie, selfvertroue, seksdrif en euforie.

Die hel:

Aggressie, geweld, psigotiese gedrag, geheueverlies en hart- en breinskade. Langtermyn-gebruikers kan feitlik seker wees van slapeloosheid, psigotiese episodes, vervolgingswaansin, hallusinasies en ineenstorting.

Uitwerking op die liggaam:

Bewende hande, verhoogde polsslag en kwaai sweet. 'n Oordosis kan koors en hartversaking veroorsaak. Langtermyngebruik maak die gevaar groter dat jy hepatitis C of MIV opdoen omdat dit ingespuit word en tot hoërisiko- seksuele gedrag lei.

Uitwerking op die brein

Tik werk as 'n stimulant, net soos kokaïen. Dit bly egter veel langer in die liggaam. Die uitputting van die brein se dopamienvoorraad is uiters kommerwekkend. 'n Tik-verslaafde verloor elke twee jaar tot die helfte van sy dopamienvoorraad, teenoor die vyf tot tien persent elke tien jaar vir die gemiddelde mens.

Dopamien help gekoördineerde bewegings reguleer en sodra die vlak met vyftien persent daal, ontwikkel die slagoffer Parkinson se siekte, wat gekenmerk word deur bewerige en rukkerige hande en kop. In die Wes-Kaap is daar jong tik-gebruikers wat reeds aan Parkinson se siekte ly.

Psigiaters is ook besorg oor die toename in gevalle van skisofrenie en psigoses onder tikgebruikers.

Dit lyk of tik mense se breine so beskadig dat hulle soos uiters aggressiewe psigopate begin optree. Dít word weerspieël in die Narkotikaburo se bevestiging dat moorde en verkragtings deur tik-gebruikers sinloser en aggressiewer raak.

Die babas van vroue wat tik tydens hul swangerskap gebruik, het 'n groter kans om al in hul kinderjare Parkinson se siekte te ontwikkel.

Nog erger: Dié babas se derms ontwikkel aan die buitekant van hul lyfies. Babas met dié afwyking word gereeld in sekere hospitale in die Skiereiland gebore.

ONDERDRUKKERS (DEPRESSANTE)

Dié middels onderdruk of vertraag sekere breinfunksies. Afhangend van watter deel van die brein onderdruk word, word dit in subgroepe verdeel, naamlik narkotiese of verdowende middels soos heroïen of middels wat jou slaperig kan maak soos onder meer Mandrax.

6. Heroïen

Straatname

Smack, mud, China white, brown, Mexican brown, brown sugar, gear, H, horse, junk

Heroïen word vervaardig van die hars van die opium-papawer en is die gevaarlikste en verslawendste dwelm. Suiwer heroïen is 'n wit, reuklose, kristalagtige poeier met 'n bitter smaak. Hoe bruiner die kleur, hoe meer onsuiwerhede bevat dit.

Dit word dikwels versny met stysel, suiker soos glukose, poeiermelk, babapoeier, waspoeier, strignien of selfs ander gifstowwe voordat dit verkoop word. Dit word gerook, gesnuif of ingespuit.

Die hemel:

'n Diepgaande gevoel van warmte en welsyn deurspoel die gebruiker en blokkeer alle gewaarwordings van pyn en onsekerheid.

Die hel:

Binne ses tot agt uur kan simptome soos naarheid, braking, koudkry, hewige gesweet en spier- en beenpyne volg. Die eintlike hel begin met die intrede van onttrekkingsimptome wat binne twee dae ná die laaste fix kan begin.

Uitwerking op die liggaam:

Heel eerste lei dit tot pyn-onderdrukking, lomerigheid, swaarheid van die ledemate, vlak asemhaling, 'n swak pols, droë mond en erg vernoude pupille. Langtermyngebruik lei tot lewerskade en vergiftiging as gevolg van bymiddels, bakteriële besmetting, absesse, infeksie van die hartvoering en -kleppe, en artritis.

Babas van ma's wat gedurende hul swangerskap heroïen gebruik, kan verslaaf gebore word.

Uitwerking op die brein:

In die brein verander heroïen vinnig in morfien, wat aan sekere reseptors bind om die gevoel van geluksaligheid te gee. Maar die brein reageer op dié bindings deur minder van sy eie goedvoel-endorfiene te vervaardig. Heroïen mors die chemiese balans in die brein só op dat die gebruiker begin om pyn te ervaar sonder dat daar enige beserings is.

Onvoorspelbare bui-veranderings en verwarring is die gevolg van die veranderde chemiese stowwe in die brein.

7. Mandrax

Straatname

Whites, Buttons

Suid-Afrika het die hoogste misbruik per kop in die wêreld en die mandrax- (metakwaloon-) tablette word gewoonlik fyngemaak en saam met 'n mengsel van dagga of tabak in 'n bottelnekpyp, 'n sogenaamde white pipe of "witwyf", gerook.

Die hemel:

Jy voel heeltemal ontspanne, vreedsaam en sorgeloos. Niks ter wêreld kan jou skeel nie.

Die hel:

As jy te veel rook, sal jy naar voel, of bewusteloos of heeltemal bedwelm raak.

Uitwerking op die liggaam:

Mandrax- gebruikers kan fisieke en sielkundige afhanklikheid van die dwelm ontwikkel en aanhoudend daarna smag. Hulle het al hoe meer daarvan nodig om die gewenste uitwerking te kry.

Uitwerking op die brein:

Mandraxgebruik verander die brein-chemikalieë met die gevolg dat die gebruiker soos 'n zombie word weens die onderdrukking van die werking van die brein.

HALLUSINOGENE

Hierdie psigedeliese dwelms vervorm 'n mens se werklikheid heeltemal en dompel die gebruiker in 'n droomwêreld waar alles vervorm is, en kleure hoorbaar en klanke sigbaar word. As groot hoeveelhede gebruik word, kan dit jou brein deurmekaarkrap en sinsbedrog en hallusinasies veroorsaak. Dit versnel ook die brein, wat gemoedskommelinge van euforie tot die diepste depressie tot gewelddadigheid kan veroorsaak. Partykeer kan die verlies van identiteit en depressie so erg raak dat dit tot selfmoord kan lei.

8. Kannabis

Straatname

Marijuana, dagga, dope, grass, ghanja, weed

In Suid-Afrika word kannabis op die platteland gekweek en verkoop om die pot aan die kook te hou. Die cannabis-plant bevat meer as 426 bekende chemikalieë, onder meer stowwe wat bekendstaan as THC (tetrahidrokannabinol).

Die hemel:

Jy voel eufories en ontspanne.

Die hel:

Paniekaanvalle, hallusinasies, terugflitse en geheueverlies kan voorkom.

Uitwerking op die liggaam:

Dit veroorsaak sinusitis en brongitis en kan tot longkanker lei. Onvrugbaarheid by mans en vroue, miskrame, doodgeboorte en vroeë sterfte by babas is van die ander gevare.

Fetale marijuana-sindroom – gekenmerk deur lae geboortegewig en ontwikkelingsabnormaliteite – kom vyf keer meer voor as fetale alkoholsindroom.

Uitwerking op die brein:

THC verander die brein-chemikalieë wat jou gevoelens, geheue, sintuie en bewegingskoördinasie beheer.

9. LSD

(Lisergiensuurdiëtielamied)

Straatname

Acid, blotter acid, microdot, white lightning

LSD is 'n geurlose en kleurlose dwelm wat in twee vorms beskikbaar is: LSD-papier wat met LSD deurdrenk is; of mikrotablette ("microdots") wat 'n baie lae konsentrasie LSD bevat.

Die hemel:

Dit voel asof jou sintuie omgeruil is, wat jou laat voel asof jy kleure hoor en klanke sien. As jy genoeg LSD neem, veroorsaak dit illusies en visuele hallusinasies.

Die hel:

Geestesafwykings soos skisofrenie en hewige depressie kan deur die gebruik van LSD aangebring word.

Uitwerking op die liggaam:

Verhoogde polsslag en bloeddruk, gevoelloosheid en swakheid.

Uitwerking op die brein:

LSD beïnvloed 'n groot aantal chemikalieë in die brein, insluitende dopamien en serotonien. Dit lyk of die dwelm moontlik die vlakke van die stof glutamaat in baie spesifieke dele van die brein verhoog, wat die breinselle oorstimuleer en 'n "elektriese storm"in die brein ontketen.

Elke elektriese storm kan tot blywende breinveranderings lei.

JOU BREIN WORD BESPIED

Nuwe tegnologie stel dokters in staat om mikroskopiese areas van die brein – die gebiede wat die meeste deur dwelmgebruik beïnvloed word – te bekyk.

Die een metode is die sogenaamde Brain SPECT (Single Photon Emission Computed Tomography), waar gammastrale gebruik word om twee- of driedimensionele beelde van aktiewe breingebiede te skep.

Met 'n brein-SPECT kan dokters kyk na die skade wat deur verskillende dwelms as gevolg van aangetaste bloedtoevloei aangerig is, verduidelik dr. Pieter Botha van die radiologie-departement by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.

Dwelms soos alkohol, kokaïen en dagga tas die doetreffendheid van bloedvate in die brein aan en belemmer die bloedtoevoer na sekere gebiede.

Op skanderings verskyn die aangetaste dele as "gate" in die brein. Die skanderings hierbo wys die brein-SPECT'e van drie verskillende crack-gebruikers.

Die kleure op die skandering dui breinaktiwiteitsvlakke aan. Rooi is die beste en geel, groen en blou dui die areas met laer aktiwiteit in afnemende volgorde aan.

4 STAPPE NA DWELMAFHANKLIKHEID

  1. Die eksperimentele stadium.
  2. Die geleentheidsgebruikfase. Jy probeer nie die dwelm aktief verkry nie, maar aanvaar dit as vriende jou dit aanbied.
  3. Die tyd van gereelde gebruik. Jy kry self die dwelm en maak seker dat jy altyd voorraad byderhand het. Jy gebruik dwelms een tot twee keer per week.
  4. Die fase van afhanklikheid of verslawing. In dié stadium sal dwelms die grootste deel van jou lewe uitmaak, en enige poging om jou van die dwelm te skei, sal aansienlike weerstand uitlok.

Dwelmafhanklikheid is 'n dodelike siekte indien dit nie behandel word nie. Dit is al met reg beskryf as 'n reis na nêrens.

FEIT

Al hoe meer dwelms word deesdae chemies só vervaardig dat dit gerook kan word, omdat die effek dan vinniger ervaar kan word.

Wanneer 'n mens tik (metamfetamien) rook, bereik dit binne dertig sekondes die brein en raak jy 'hoog', maar as jy dit sluk, neem dit tien tot vyftien minute om by die brein uit te kom.

Bronne: Drugs and Drug Abuse in Southern Africa, Sylvain de Miranda (Van Schaik, 1987) en Donker Liefde, My Verhouding met Heroïen, Anoux Venter, (Tafelberg- Uitgewers, 2007).

Dié artikel is saamgestel met die hulp van een van Suid-Afrika se voorste dwelmkenners, superintendent Casper Venter, chemikus van die chemie-eenheid van die forensiese wetenskap-laboratorium van die SAPD; senior superintendent Deven Naicker, die nasionale hoof van dwelms van die Suid- Afrikaanse Polisiediens; en die Mediese Navorsingsraad.