Die nuwe seisoen se entstof het in die land opgedaag, en jy moet verkieslik sorg jy kry dié inspuiting voor Junie, sê dr. Balin Moodley, ’n mediese dokter by Netcare se reiskliniek in Rivonia.

Dis ’n ouvroustorie dat die griepinspuiting kwaai griepsimptome veroorsaak, sê hy. “As jy reeds begin siek word, kan die simptome vererger, maar so iets gebeur baie selde.” Balin beveel dit vir almal aan, maar sê veral kinders, bejaardes en mense met diabetes, hartprobleme, chroniese borskwale en immuunsiektes moet sorg dat hulle ingeënt word. “Babas kan van drie maande oud af ingeënt word. Ouer mense kry net een dosis, maar die heel kleintjies kry twee, ’n maand uitmekaar, met ’n halwe dosis ingespuit,” verduidelik Balin. Die inspuiting kos sowat R75. Watterpokkies-entstof

Daar is nou al geruime tyd ’n tekort aan dié entstof in Suid-Afrika, maar dis nie rede tot kommer nie, sê Balin. Volgens hom is dit nie ’n noodsaaklike inenting nie.

Die entstof is eers in 1995 bekendgestel. Volgens Balin kan die meeste mense se immuunstelsel self die siekte beveg, mits jou immuunstelsel nie onder druk verkeer nie en jy nie ’n siekte soos diabetes het nie.

Die tekort aan entstof het glo ontstaan ná hernude uitbrake van waterpokkies in Eerstewêreldlande, soos Spanje, waar dit jare lank nie voorgekom het nie. “Dit kan wees weens die ekonomiese insinking, oorbevolking of globalisering,” meen Balin.

Dit het gelei tot ’n groter aanvraag; die vervaardigers kan nie voorbly nie.

Dit sal na verwagting nog ’n paar maande duur voor die entstof weer in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.