’n Hond as troeteldier – of die nabyheid van plaasdiere – kan kinders se risiko vir asma verlaag.

’n Studie wat in Swede uitgevoer is, het die toenemende kommer onderstreep dat ’n pynlik skoon omgewing vroeg in jou lewe, jou weerstand teen allergieë en asma kan verlaag.

Die studie se uitslag, wat in die tydskrif JAMA Pedriatics gepubliseer is, toon dat die kinders in huishoudings met honde 15 persent minder geneig was om asma te kry, terwyl aanraking met plaasdiere selfs hierdie risiko kan halveer.

Wetenskaplikes het data van ’n miljoen kinders, wat tussen 2001 en 2011 in Swede gebore is, nagegaan en vasgestel asma is minder dikwels in hul grootwordjare gediagnoseer by dié wat in hul eerste lewensjaar met honde in aanraking was.

Die risiko van kinders wat naby plase gebly het, was ’n verstommende 52 persent laer.

“Vroeëre studies het ddd getoon dat ’n kind wat op ’n plaas grootword, se risiko vir asma ongeveer 50 persent laer is,” het dr. Tove Fall, die hoofwetenskaplike van die Universiteit van Uppsala, bekendgemaak. “Ons wou kyk of hierdie verhouding ook waar was in die geval van kinders wat met honde in die huis grootword.

Kinders met honde is 15% minder geneig om asma te kry

“Ons resultate het die uitwerking van die plaas bevestig en ons het ook opgemerk dat kinders wat met honde grootgeword het, ’n ongeveer 15 persent laer kans gehad het om asma te kry as kinders sonder honde.

“Ons het toegang gehad tot so ’n groot en omvattende datastel dat ons verbysterende faktore, soos asma by ouers, die omgewing waar hulle woon en sosiaal-ekonomiese stand, in berekening kon bring.”

Blootstelling aan parasiete en mikrobes in die vroeë kindertyd kan help dat die immuniteitstelsel doeltreffend ontwikkel. Die hipotese oor higiëne waarsku dat dit gevaarlik kan wees vir die kind se gesondheid as jy te besorg is oor sindelikheid, aangesien hul liggam dan nie doeltreffend kan reageer op kieme en ontsteking nie.

“Ons weet dat kinders met ’n bewese allergie vir katte of honde, die diere moet vermy, maar ons resultate toon ook dat kinders wat met honde grootword, later minder geneig is om asma te kry,” het prof. Catarina Almqvist Malmros van die Karolinska-Instituut in Swede en medeskrywer van die studiestuk, verduidelik.

Sy het bygevoeg dat die studie nie kon lig werp op die wyse waarop diere kinders teen die ontwikkeling van asma kan beskerm nie.

© Cover Media