Stel jou voor: jy het ’n besige dag agter die rug en jy is gereed vir jou welverdiende nagrus. Skielik skiet daar ’n pyn teen jou been op en ruk jou uit jou heerlike sluimerslapie en miskien nog uit jou bed ook! Krampe in die bene is geen grap nie, soos enigiemand wat al wreed deur hulle gewek is en wat die dowwe pyn agterna deurgemaak het, jou sal kan sê.

’n Dieet wat ryk is aan magnesium, is nie net vir spierspasmas heilsaam nie; dit hou ook streshormone in toom.

Navorsers in Israel het ’n konkoksie van magnesium, vitamien B6 en vitamien E getoets en bevind dat simptome binne twee weke aansienlik beter was en in sommige gevalle heeltemal weggegaan het. Altesaam 82 persent van die 16 mense wat aan die ondersoek deelgeneem het en wat die formule ingeneem het, het gesê dat die krampe in hul bene ná twee weke weg was. Die orige 16 het ’n plasebo gekry.

Die bevindings is in die vaktydskrif Magnesium Research gepubliseer. Twee weke voor die betrokkenes enige behandeling gekry het, is lesings van hulle almal geneem en dit is ook gepubliseer.

Die betrokke aanvulling se naam is RealMagLegs, maar dit is nie al manier waarop jy jou magnesiumvlakke kan verhoog nie.

Die mineraal kom voor in kossoorte soos blaarryke groen groentes, broccoli, volgraansoorte en neute, maar ongelukkig kry baie mense nie genoeg hiervan in nie; trouens, in ’n ander studie is bevind dat 97 persent van die 1 000 mense tussen 30 en 65 jaar oud wat getoets is, die een of ander tyd krampe gekry het.

Altesaam 60 persent van hulle het die krampe snags gekry, maar slegs 14 persent het besef dat daar ’n verband is tussen magnesium en krampe.

’n Dieet wat ryk is aan magnesium, is nie net vir spierspasmas heilsaam nie; dit hou ook streshormone in toom. Melatonien, wat slaap reguleer, word ook onderbreek wanneer daar nie genoeg magnesium in jou liggaam is nie. Magnesium kan ook help om spiere te laat ontspan sodat jy soepeler is en dis boonop noodsaaklik vir gesonde bene.

© Cover Media