Maande se swoeg en sweet in die gimnasium en jy’t gesond geëet, maar jy het nog steeds nie die plat magie wat jy so begeer nie. Wel, pak die skuld op opgeblaasdheid! Baie van ons word daardeur geraak en dit is dodelik vir jou welstand, sowel as vir jou selfvertroue.

Daar is wel sekere voedselsoorte wat die probleem vererger en ander soorte wat sommer in 'n japtrap vir jou daardie droommaagspiere sal gee. Lees dus gerus voort vir 'n klompie topwenke vir daardie plat magie waaroor jy droom.
Bly ook weg van sout en suiwelprodukte, want hulle is ook groot sondebokke.

Jy mag dalk blomkool, broccoli en kool as gesonde, skadelose voedselsoorte beskou omdat hulle propvol voedingstowwe is, maar hulle kan sommige mense laat opblaas.

"Hierdie groentes word, as gevolg van ’n tekort aan ensieme by sommige mense, nie behoorlik in die dunderm verteer nie,” het Dr Marilyn Grenville, voedselkundige en skrywer van Natural Solutions to IBS aan Femail by die Daily Mail gesê.

Steenvrugte en peulgroente kan soortgelyke probleme veroorsaak omdat die suiker-alkohol van steenvrugte in die maag gis en dit veroorsaak dan wind.

"Bone, soos soja, lensies en kekerertjies, bevat oligosaggariede, ’n soort suiker wat in die bone voorkom en wat gewoonlik deur bakterië in die dikderm verteer word,“ het sy voortgegaan.

Sy raai mense ook aan om ook nie kougom tussen maaltye te kou nie, want dit kan veroorsaak dat jy lug sluk. Die lug word in jou maag vasgevang en dit veroorsaak opgeblaasdheid. Suig liewer 'n peperment as jy jou mond wil verfris.

Bly ook weg van sout en suiwelprodukte, want hulle is ook groot sondebokke. Sout is die oorsaak van waterretensie terwyl suiwelprodukte soms moeilik verteer.

"Sommige mense produseer nie die ensiem laktase wat hulle help om laktose, 'n soort suiker wat in melk voorkom, af te breek nie,” het sy verduidelik.

"Jou liggaam het die laktase nodig om die laktose af te breek, anders gis dit in die dermkanaal en veroorsaak pyn, wind en opgeblaasdheid.”

Wees ook uiters versigtig omtrent dit wat jy drink: vermy enigiets met borrels, selfs water met gas in kan jou baie winderig laat voel.

© Cover Media