Dit verg heelwat moed om nakend voor die spieël te staan en jouself te beskou, maar dit kan die enigste manier wees om verborge probleme raak te sien.

Kundiges het met Daily Mail Online gesels oor ’n paar probleme waarvoor jy moet oplet en wat dit moontlik kan beteken.

Donker vel in oksels

Dit is nie net haarverwydering wat jou velkleur kan laat verander nie – dik, donker kolle, bekend as akantose nigricans, kan ’n vroeë teken van tipe 2-diabetes wees.

Die siekte word gekenmerk deur hoë bloedsuiker, ’n tekort aan insulien en weerstandigheid teen insulien. Die kolle kan ook droog wees, en grof en jeukerig voel.

Lees ook: Naellak kan ernstige gesondheidsrisiko’s inhou

“Dit word aan vetsug gekoppel en kan insulienweerstandigheid veroorsaak, ’n voorloper van diabetes, wanneer die liggaam nie in staat is om die hormoon insulien behoorlik te gebruik om die bloedsuikervlakke te reguleer nie, en die pankreas probeer om meer en altyd meer te produseer,” het dr. Nida Chammas, ’n konsult-diabetes-endokrinoloog by die BMI The Clementine Churchill-hospitaal, Middlesex, gesê.

“Hoë insulienvlakke in die bloed word beskou as die oorsaak van verandering in velselle wat lei tot die vorming van hierdie kolle.”

Dit word gewoonlik op plekke soos die oksels, nek en lies gevind – dus in plekke waar voue in die vel voorkom.

Die een skouer is hoër as die ander

As jou skouers ongelyk is of een skouerblad is meer prominent as die ander een wanneer jy omdraai om jou rug in die spieël te bekyk, kan dit ’n kronkeling in die ruggraat, bekend as skoliose, wees.

“Mense beskou skoliose konvensioneel as ’n S-vormige werwelkolom,” het Tony Kochhar, ’n konsult- ortopediese chirurg by die London Bridge-hospitaal opgemerk.

“Maar die siekte beïnvloed ook die ribbe deur dit te verdraai en op- en uitwaarts te stoot, en dit kan die skouerlyn laat skeeftrek.”

Of dit kan selfs die gevolg van veelvuldige sklerose, ’n neurologiese siekte, wees wat kan lei tot wegkwyning van die spiere.

“Veelvuldige sklerose beïnvloed die boodskappe wat die brein na die spiere stuur,” het prof. Kochbar bygevoeg.

Lees ook: So kan ’n hoëvetdieet jou gesondheid skaad

“As die boodskappe nie kan deurgaan nie, kan dit die werking van die spiere beïnvloed en dit kan begin wegkwyn en sodoende word die skouerlyn beïnvloed.”

Prominente are in jou nek

Jou hart pomp moontlik nie genoeg bloed deur die liggaam teen die regte druk nie en dit veroorsaak hartversaking.

Dik are is ’n teken hiervan, en so ook as jy gereeld kortasem raak en geswolle enkels en voete – ook ’n gevolg van bloed wat nie behoorlik vervoer word nie.

“Dit beïnvloed die are wat die bloed van die kop na die hart vervoer,” het dr. Glyn Thomas, konsult-kardioloog by die Bristol-Hartinstituut, verduidelik.

“As daar minder krag is om dit deur te stoot, bou bloed op en dit veroorsaak dat die are bult.”

© Cover Media