Hoekom beproef jy nie ’n gesonde benadering tot gewigsverlies nie, pleks van ’n dieet te volg wat jou mislik en honger laat voel?

Popsugar.com het kundige advies ingewin by professionele voedingkundiges oor topmaniere om kilogramme af te skud. Ons deel ’n klompie daarvan met julle.

Die eerste noodsaaklike aanbeveling is om nie sekere voedselsoorte uit te skakel nie, maar om meer van die goeie kosse elke dag by jou maaltye in te sluit.

Soos hierbo genoem, kan drastiese diëte ’n hele voedselgroep uitskakel en dit kan jou ongelukkig laat voel. Hoe is ’n mens nou veronderstel om jou slanke figuur te geniet as jy nie van die lewe hou nie?

Lees ook: Amandels help met gewigsverlies

As jy die ongesonde kosse heeltemal moet uitskakel, sal jy bowendien heel waarskynlik terugval op hulle en jou boonop vergryp ook.

Leslie Langevin, dieetkundige by Whole Health Nutrition, het aan popsugar.com gesê smagtings moet daagliks bevredig word, maar jy moet seker maak jy doen dit reg, byvoorbeeld net een of twee blokkies donkersjokolade.

Nog ’n topwenk is voor die hand liggend: Eet meer groente! En dit beteken nou ook nie jy moet ’n pizza met hope sampioene, groenrissies en tamaties belaai nie aangesien dit geen voordele inhou nie.

Groente bevat nie net baie vesel nie; dit het min kilojoules; dus gaan jy ure lank versadig voel sonder dat daar enige skade aangerig is.

Probeer om pasta om te ruil vir spiraalgesnyde murgpampoentjies en van slaaie ’n heerlike hoofmaal te maak deur die byvoeging van hoenderborsies, vis, of peulgroente – as jy ’n vegetariër/veganis is.

Lees ook: Oefenvrate, lees hier! Watter een is beter: Ligte of swaar gewigte?

Jy behoort aan groentehappies, soos wortel- of komkommerstokkies, plus ’n gesonde, tuisgemaakte doopsous te smul.

Dit help ook baie om jou voedselinname na te gaan om seker te maak jy oordoen dit nie.

Jy kan dood van die honger wees teen die aand se kant, en wil vir jou ’n groot maaltyd berei. Maar kyk jy na jou voedselinname vir die dag, kan jy besef jy het nie so baie kos nodig as wat jy dink nie.

Porsiebeheer is ook noodsaaklik. As jy dink jy voel honger hoewel jy pas geëet het, het jy moontlik ’n behoefte aan hidrasie. Dit is belangrik dat jy nie dorstigheid vir honger aansien nie.

Moenie ongemaklik voel omdat jy jou maaltye en happies beplan nie, maar jy moet dit afwissel aangesien ’n alte gedissiplineerde benadering jou gaan verveel en dan gaan jy rondkyk vir stoute happies.

© Cover Media