Hierdie jaar moet jy die klapperolie verruil vir avokodo-olie en om jou eie bier te brou, sal algemene praktyk word.

Pinterest het ’n lysie saamgestel van kosneigings vir 2016 nadat hulle die pins van meer as 100 miljoen gebruikers wêreldwyd ontleed het. Ons kyk na wat volgende jaar op die spyskaart is.

Avokado-olie: Dit gons behoorlik dat dié olie die nuwe klapperolie van 2016 gaan wees. Dit kan op verskillende maniere gebruik word – jy kan daarmee kook en selfs mayonnaise (genoem avonnaise) maak.

Distilleer jou eie alkohol: Daar is ’n toename in doen-dit-self-distillering op Pinterest opgemerk, so moenie skrik as jy by jou pelle se kuier en hulle hul eie whiskey in hul kombuis distilleer of wodka maak nie.

Soet met ’n souterige kinkel: Met sekere kosse, veral ontbyt, verkies mense nou southappies bo die tradisionele soet opsies. Byvoorbeeld, mense skink nou hollandaisesous oor Franse roosterbrood eerder as heuning of stroop.

Water met ’n vrugteskop: Dié kreatiewe kinkel met water gee dit ’n lekker smaak en is ook heelwat gesonder as gaskoeldrank of vrugtestap. Jy kan vrugte van jou keuse gebruik – aarbeie, bloubessies, suurlemoene – en dit in water laat week vir ekstra geur.

Filterkoffie: In plaas van om geld te mors op duur cappuccino’s in restaurante, kry ’n koffiefilter en filterdrupper en maak jou eie boeretroos by die huis.

Bento-bokssies: Bento-boksies, tradisioneel van Japan, is afgeskorte koshouers waarin middagete gepak word. In plaas van om een groot middagete in te pak, peusel mense nou heeldag lank aan happies wat lekker gerlieflik in Bento-boksies gepak is.

“Tradisionele” gourmet: Tradisionele disse soos spaghetti-bolognese en kerries is staatmakers, maar kan ná ’n rukkie afgesaag raak. Dis hoekom sjefs nou moderne kinkels by tradisionele gunstelinge met gourmet flair voeg.

Tuisgebroude bier: Volgens Pinterest raak dit ’n al hoe gewilder stokperdjie om bier tuis te brou.

Bier-mengeldrankies: Dit lyk omtrent of 2016 die jaar is waarin bier gaan oorheers. Nie net raak tuisgebroude bier al hoe gewilder nie, maar bier word nou ook gebruik om nuwe en interessante mengeldrankies mee te maak.

Groente is bo: Dis reeds ’n neiging onder Suid-Afrikaners (veral dié wat die banting-dieet volg), maar meeste mense sal koolhidrate soos rys en pasta verruil vir groente soos blomkoolrys of noedels gemaak van murgpampoentjies.

BRONNE: dailymail.co.uk, huffingtonpost.co.uk, today.com, pinterest.com