Tinnitus, die mediese term vir geluide wat jy uit jou liggaam hoor, pleks van uit jou omgewing, kom ál meer algemeen by jong mense voor.

Volgens navorsers aan die Universiteit van São Paulo se mediese skool in Brasilië hou dit verband met hoë volume op oorfone sowel as gereelde besoeke aan disko’s, nagklubs en konserte.

Dit word veroorsaak deur tydelike of permanente beskadiging van die kogleêre haarselle in die binneoor, wat rek en krimp in reaksie op klank.

Harde geluide oorlaai dit en dit dwing ander dele van die oor om hard te werk om te vergoed vir die verlies aan werking in daardie gedeelte.

Die navorsers het ’n otoskoop – die instrument wat die oortrommel visueel ondersoek – gebruik op 170 leerders tussen 11 en 17 jaar.

Die deelnemers is versoek om ’n vraelys te voltooi om uit te vind of hulle die afgelope 12 maande aan tinnitus gely het en, indien wel, wat die volume, duur en frekwensie was.

Lees ook: Geraasbesoedeling kan jou hart aantas

Meer as die helfte van die jeugdiges – 54,7 persent – het gesê hulle het wel.

Hierdie groep het toe ’n psigoakoestiese ondersoek ondergaan om hul gehoor te meet. Dit het in ’n akoestiese kamer geskied en ’n oudiometer is gebruik.

Amper 29 persent van hierdie groep het terwyl hulle in die hokkie was aangedui hulle ly aan tinnitus, en die eienskappe het ooreengestem met ’n diagnose van chroniese tinnitus by volwassenes.

“Hierdie hoë voorkoms is verontrustend,” het Tanit Ganz Sanchez, medeprofessor in oor- neus- en keelkunde aan die universiteit en hoofnavorser van die studie, gesê.

Daar was ’n opvatting dat tinnitus net ’n probleem by ouer mense is, maar ons kom agter dat dit ál meer by jonger groepe, onder wie kinders en tieners, voorkom weens hul toenemende blootstelling aan, onder meer, hoë geraasvlakke.

Lees ook: Geraas kan bydra tot gewig

“Ons het bevind dat adolessente baie dikwels tinnitus ondervind, maar in teenstelling met volwassenes, bekommer hulle hulle nie daaroor nie en hulle kla byvoorbeeld ook nie by hul ouers of onderwysers daaroor nie.

“Hulle spreek dus ook nie ’n dokter of gehoorspesialis nie, en die probleem kan chronies raak.

“As die ore van tieners met tinnitus meer gevoelig is vir hoë geraasvlakke as dié wat nie aan tinnitus ly nie, sal hulle vanselfsprekend gouer aan gehoorverlies ly.

“Die tinnitus is die eerste teken van hierdie gebrek en kom voor lank voor enige werklike gehoorverlies.”

Die bevindings is gepubliseer in Scientific Report, ’n aanlyn tydskrif wat Springer Nature uitgee.

© Cover Media