Deur die loop van die jaar word bewustheid geskep oor testikulêre kanker. Dié kanker raak agt uit elke 100 000 mans. Hoewel dit redelik seldsaam is, is dit steeds belangrik om te weet vir watter tekens jy moet uitkyk.

[caption id="attachment_132065" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie:  Instagram, dontchangemuch Foto ter illustrasie: Instagram, dontchangemuch[/caption]

As testikulêre kanker vroeg opgespoor word, kan dit maklik behandel word. Ons het met dr. Kenny du Toit, ’n urologiese konsultant by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, gesels om die feite en basiese inligting te kry wat elkeen moet weet.

Wie se risiko vir testikulêre kanker is die grootste?

  • Mans tussen 20 en 40 jaar.
  • Mans met ’n familiegeskiedenis van die siekte, byvoorbeeld as ’n pa of broer dit het of gehad het.
  • Mans wie se testes nie met geboorte afgesak het nie, insluitend diegene wat as kleuter ’n operasie moes ondergaan.
  • Mans met atrofiese (klein) testes.

Van watter ouderdom moet ’n man homself gereeld ondersoek?

Selfondersoek van die ouderdom van 18 jaar is waarskynlik voldoende; tog voel talle gesondheidsowerhede dat mans hulself te min ondersoek. Kenny beveel minstens een keer per week aan vir mans in die vatbare ouderdomsgroep. “Dit neem net ’n paar sekondes om te kyk of die testikels se grootte en gevoel normaal is.”

Wat behels selfondersoek?

’n Warm omgewing is die beste, byvoorbeeld in ’n warm bad of in die stort. “Neem die testes tussen die duim en indeksvinger van albei hande. Rol dit sagkens op en af terwyl jy geleidelik die bo- na die onderkant van die testikel bereik,” sê Kenny.

Moenie skaam wees nie: Ondersoek albei testikels vir knoppe of swelsels.

Lees ook: Hier is waarom elke man ’n besnydenis moet oorweeg

Wat is normaal?

  • Testikels moet glad, ferm en gemaklik wees om aan te raak.
  • Dis doodnormaal as een testikel effe groter is of laer as die ander een hang.

Wat is nie normaal nie?

  • ’n Ferm knop of swelsel wat nie voorheen daar was nie.
  • ’n Dowwe pyn in die onderlyf.
  • ’n Swaar of geswolle testikel.

Nie alle knoppe en swelsels is kankeragtig nie, maar as jy vermoed daar is fout, laat dit eerder ondersoek. Vroeë opsporing is uiters belangrik.

Wat moet ek doen as ek iets buitengewoons voel?

“’n Ferm knop in die testes of dowwe pyn in ’n vergrote testikel moet dadelik ondersoek word,” sê Kenny.

“Gaan dokter toe as jy ’n dowwe pyn ervaar wat nie ná ’n dag of twee verdwyn nie.” Kenny sê ’n skielike pyn in die testikels is nie ’n teken van testikulêre kanker nie, maar van testikulêre torsie. “Torsie (verdraaiing) is ’n noodgeval wat onmiddellike evaluering en behandeling vereis.”

Wat as ek ongemaklik daaroor voel om vir ’n ondersoek te gaan?

“Alhoewel dit altyd beter is as ’n dokter jou testikels ondersoek,” sê Kenny, “kan jy ook self die ondersoek in die privaatheid van jou eie huis doen.”

Hy waarsku egter as jy ’n knop, swelsel of pyn het, moet jy die moed bymekaarskraap om dokter toe te gaan. “Ons praat hier van kanker, iets wat selfs die skaamste introvert ernstig moet opneem en moet laat ondersoek. Vroeë diagnose kan lei tot genesing. As dit kanker is, gaan dit nie net verdwyn nie.”

Lees ook: Borskanker kan deur bloedtoets opgespoor word

Behandeling

Die goeie nuus is dat testikulêre kanker uiters behandelbaar is as dit vroeg opgespoor word. Die slegte nuus is dat die testes amper nooit gespaar kan word nie.

“Die geaffekteerde testikel, testes en spermatiese koord word verwyder in ’n poging om ’n pasiënt in die vroeë stadium van die siekte te genees,” sê Kenny. Net die geaffekteerde testikel word verwyder, nie albei nie.

Die lewe ná testikulêre kanker

Die verwydering van een testikel sal selde ’n beduidende uitwerking op hormoonproduksie en seksuele funksie hê. “Sommige mans sal dalk ’n enkele kursus chemoterapie benodig, en dit kan ’n negatiewe invloed op vrugbaarheid hê,” sê Kenny.

Daar word dus voorgestel dat mans met testikulêre kanker voor chemoterapie met hul onkoloog praat oor moontlike toekomstige vrugbaarheidsbehandeling.

Maar wees gerus: “Die meerderheid mans sal ’n paar jaar ná die operasie en chemoterapie ’n kind natuurlik kan verwerk.” Kenny beveel nogtans aan dat mans voor chemoterapie ’n draai maak by ’n spermbank.

Is daar enige verband tussen testikulêre en prostaatkanker?

“Daar is ’n ingewikkelde verband tussen die ontwikkeling van testikulêre en prostaatkanker en die hormone in die liggaam,” sê Kenny. In studies is bevind mans met testikulêre kanker het ’n effens groter kans om ook prostaatkanker te kry. Of dit van klieniese belang is, kan nog nie vasgestel word nie.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou