’n Ystertekort is ’n algemene probleem en vroue loop ’n groter risiko as mans om dit te ontwikkel. Yster is so belangrik omdat dit hemoglobien vervaardig – ’n proteïen wat suurstof via rooibloedselle aan die liggaam voorsien. As jy nie genoeg rooibloedselle het nie, kan jy probleme ervaar wat selfs tot bloedarmoede kan lei.

Eerstens moet jy kyk of jou leefstyl dalk aanleiding daartoe kan gee. As jy ’n vegetariër of vegan is, kry jy dalk nie genoeg yster in nie omdat jou dieet nie vleis, vis of pluimvee bevat nie – dié kosse voorsien jou liggaam van yster wat makliker deur die liggaam geabsorbeer word as dié van plante.

Nog ’n risikofaktor is swaar bloeding tydens maandstondes. As jy tydens jou maandelikse siklus te veel bloed verloor, kan jou liggaam dikwels net die helfte daarvan vervang en dit kan tot ’n tekort lei. As jy meer as elke twee uur jou tampon moet vervang, moet jy jou dokter gaan spreek. ’n Gejaagde leefstyl is die norm vir meeste vroue en daarom is dit glad nie verbasend as jy pootuit is ná ’n lang dag nie, maar as jy meer uitgeput as gewoonlik is, kan dit ’n teken van ’n ystertekort wees. Prikkelbaarheid en ’n tam gevoel is ook tekens, so maak seker jy hou jou energievlakke dop. Yster help om suurstof deur jou liggaam te vervoer en daarom kan kortasemheid ook ’n teken van ’n ystertekort wees. As jy oor die algemeen fiks is, maar skielik uitasem is as jy met die hond gaan stap of trappe klim, moet jy dokter toe gaan.

Indien jy enige van hierdie simptome het, beteken dit nie noodwendig jy het ’n ystertekort nie, maar jy moet nog steeds vir ’n doktersondersoek gaan.

’n Ystertekort kan ook ’n impak op jou voorkoms hê. Een teken is as jy baie bleek is, omdat hemoglobien die rooi kleur aan jou bloedselle gee. As jy ’n tekort daaraan het, sal jy nie die rosige wange van ’n gesonde persoon hê nie. Nog ’n teken is as jy meer hare as gewoonlik verloor, veral as dit reeds in bloedarmoede ontwikkel het. Dit kan jou ligaam in oorlewingsmodus laat gaan wat veroorsaak dat dit suurstof gebruik om lewensbelangrike funksies te ondersteun, wat jou hare heelonder aan die lysie plaas. Maar moenie paniekbevange raak as daar ’n paar haarstringe in jou drein is nie; meeste mense verloor sowat 100 hare per dag.

Hou ook ’n ogie op die kleur en gevoel van jou tong. As dit kleurloos of seer is, ontsteek of glad lyk, het jy dalk ’n ystertekort. Wees ook op die uitkyk vir angstigheid, vreemde kosdrange vir modder, ys of klei, hoofpyn en rustelose bene-sindroom. As jy swanger is, ’n onderaktiewe skildklier het of aan inflammatoriese dermsiekte ly, kan jy ook ’n groter risiko vir ystertekort hê.

Indien jy enige van hierdie simptome het, beteken dit nie noodwendig jy het ’n ystertekort nie, maar jy moet nog steeds vir ’n doktersondersoek gaan. As jy veilig wil speel, kan jy meer yster by jou dieet voeg deur kosse soos lensies, spinasie, beesvleis, neute, hoender of kekerertjies te eet.

© Cover Media