In ’n onlangse ondersoek deur dr. Sander Koole en sy span aan die Vrije Universiteit Amsterdam het hulle bevind dat aanraking mense se bestaansvrese kalmeer. En dié aanraking kan ook kom van jou gunsteling sagte vriend.

Die studie het bewys mense met ’n swak selfbeeld, kry sekerheid in die aanraking van iemand, of iets, anders – selfs al is dit net ’n ligte, kortstondige hand op die skouer.

Dit het verder gewys dat hierdie individue soek na aanraking wanneer hulle gekonfronteer word met hul onafwendbare dood. Sielkundiges het die deelnemers gevra watter geldwaarde hulle aan ’n spesifieke teddiebeer sou heg. Die helfte wat vooraf spesifiek herinner is aan die dood, het die waarde byna twee keer hoër geplaas as die helfte wat nie direk vooraf ’n gesprek oor die dood gevoer het nie.

“Ons bevindings wys dat selfs die aanraking van ’n lewelose voorwerp, soos ’n teddiebeer, jou bestaansvrese kan minder maak,” het Sander gesê. “Interpersoonlike aanraking is so ’n kragtige meganisme dat selfs voorwerpe wat menslike aanraking naboots, ’n gevoel van ’n betekenisvolle lewe by iemand kan wek.”

Alet van Zyl

Bygewerkte bronne: In-mind.org, Psychologicalscience.org.