Die gevare van te veel sout is taamlik wyd bekend: dit kan jou bloeddruk verhoog en veroorsaak kwale soos hartsiektes en beroerte. Nou word beweer dis slegs die oortjies van die seekoei, want hoë soutvlakke kan moontlik puberteit vertraag en dit kan op die lange duur lei tot vrugbaarheidsprobleme.

Die jongste waarskuwing spruit voort uit ’n studie deur die Universiteit van Wyoming in Amerika wat by die Europese Kongres van Endokrinologie in Dublin voorgelê is. Onder leiding van Dori Pityanski is nagevors watter uitwerking verskillende soutvlakke op getoetste rotte se puberteit het.
Die navorsing toon puberteit was baie langer vertraag by dié wat drie tot vier keer die aanbevole daaglikse hoeveelheid gekry het, vergeleke met dié wat die normale, lae hoeveelheid gegee is.

Die navorsing toon puberteit was baie langer vertraag by dié wat drie tot vier keer die aanbevole daaglikse hoeveelheid gekry het, vergeleke met dié wat die normale, lae hoeveelheid gegee is. By rotte wat baie minder as die normale hoeveelheid gekry het, was die proses ook vertraag.

Hieruit het die span afgelei sout is nodig om te verseker puberteit ontwikkel op die normale tyd. Vertraagde puberteit kan eindelik lei tot vrugbaarheid- en gedragsprobleme en probleme met streshantering.

Dori het verduidelik: “Ons werk toon hoë vet- en soutvlakke het teenoorgestelde uitwerkings op voortplantingsgesondheid. Vroeër is aanvaar ’n hoëvetdieet bespoedig die aanvang van puberteit, maar ons navorsing toon puberteit was ook vertraag by rotte wat baie sout en baie vet ingeneem het.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het vroeër verklaar mense wêreldwyd neem te veel sout in. Hulle beskou 5 g as die korrekte daaglikse hoeveelheid.

Maar dit is nie net die mense wat sout oor hul kos strooi wat gevaar loop om te veel in te neem nie; die werklike probleem is die hoeveelheid sout wat by geriefskos en klaargaar maaltye gevoeg word. Volgens die organisasie Action on Salt het byvoorbeeld 75 persent van die pizzas wat getoets is meer as die aanbevole hoeveelheid sout per dag bevat. Brood, geurmiddels en spek kan ook te veel sout bevat.

Begin dus die etikette bestudeer wat die voedingswaarde van kos aandui. Die hoeveelheid sout word as baie beskou wanneer dit meer is as 1,5 g per 100 g van die kossoort, of 0,6 g natrium (sout word ook natriumchloried genoem) per 100 g kos. ’n Lae soutinhoud is minder as 0,3 g sout of 0,1 g natrium per 100 g kos.

© Cover Media