Die middelmaat van mense wat gemiddeld ses uur per nag geslaap het, was 3 cm groter was as dié wat nege uur per nag geslaap het, het navorsers aan die Universiteit van Leeds vasgestel. En dié wat korter geslaap het, was ook swaarder.

“Volwassenes wat aangedui het hulle slaap korter as hul tydgenote, het ’n groter kans gehad om oorgewig of vetsugtig te wees. Ons bevindings beklemtoon dus die belangrikheid van genoeg slaap,” het die senior skrywer, dr. Laura Hardie, gesê.

“Die hoeveelheid slaap wat ons nodig het, verskil van mens tot mens, maar die huidige konsensus is dat sewe tot nege uur die heilsaamste is vir die meeste volwassenes.” 

Die akademici het die terugvoer van1 615 volwassenes ontleed. Deelnemers moes rapporteer hoe lank hulle slaap en hulle moes ook rekord hou van hul voedselinname.  Daar is bloedmonsters van die deelnemers geneem en hul gewig, middellyfomtrek en bloeddruk is aangeteken. 

In die lig van die resultate is die navorsers oortuig daarvan dat te min slaap kon bydra tot die ontwikkeling van metaboliese siektes soos diabetes.

“Die getal vetsugtige mense wêreldwyd het sedert 1980 meer as verdubbel. Vetsug dra by tot die ontwikkeling van baie siektes, veral tipe 2-diabetes. As ons kan verstaan hoekom mense gewig aansit, sal dit deurslaggewende implikasies vir openbare gesondheid hê,” het die navorser Greg Potter verduidelik.

Minder slaap is ook gekoppel aan verlaagde vlakke van HDL-cholesterol in die bloed van die deelnemers. HDL-cholesterol is “goeie” cholesterol wat die liggaam help om van “slegte” vette ontslae te raak.

Die studie het egter geen verwantskap gevind tussen verkorte slaaptyd en ’n minder gesonde dieet nie. Dit het die navorsers verras, aangesien vorige verslae aangedui het dat minder slaap tot swak dieetkundige keuses kan lei.

Die volledige studie is in die tydskrif PLOS ONE gepubliseer.