Enigeen wat al hul gewig dopgehou het, sal weet: Al gedra jy jou hoe goed by die huis deur gesond te eet, vlieg dit alles by die venster uit wanneer jy vir ete uitgenooi word. Daar is soveel aanloklike eetgoed dat jy net die vetterigste opsie met die meeste kilojoules wil kies, of hoe? Wel, dalk moet jy nie alleen die blaam daarvoor dra nie.

Daar is in nuwe navorsing bevind restaurant-spyskaarte lei dikwels tot ongesonde keuses. “Wat jy bestel, het dalk minder te doen met wat jy wil hê en meer te doen met die spyskaart se uitleg en beskrywings,” sê Brian Wansink, ’n professor in verbruikersgedrag aan die Cornell-universiteit.

Enigiets wat uitstaan, sal die oog tref – dit sluit in gekleurde letters, woorde wat uitgelig is, in kassies of in groter letters geskryf is. “Maar in die meeste gevalle is dit die ongesondste items op die spyskaart,” sê hy.

Meer as 300 eetplekke en hul koskeuses, asook 217 spyskaarte is as deel van die studie bestudeer. Beskrywende name was ook baie gewild. Die gerege met meer besonderhede het beter verkoop omdat klante glo dit smaak lekkerder. Vorige studies het bewys geregte met meer beskrywende name op die spyskaart verkoop beter en ontlok ’n beter reaksie – selfs as die resep dieselfde bly.

“Twee dinge maak die meeste saak wanneer jy kos bestel – wat jy op die spyskaart sien en hoe jy dink dit gaan smaak,” sê Brian.

Hy gee ook raad oor hoe jy die probleem kan oorkom en sê jy moet die kelner vir ’n “ligter” opsie vra in pleks dat jy net enigiets kies.

© Cover Media