’n Gesonde sekslewe is ’n belangrike deel van ’n goeie verhouding en bevorder jou welstand. Maar die meeste mense se libido het af en toe ’n hupstoot nodig. Die kos wat jy eet, kan regtig ’n invloed hê op hoe sexy jy voel – en ons praat nie net van oesters nie!

Aarbeie

Aarbeie is baie mense se gunsteling-vrug en is gewild danksy hul soet smaak en gesondheidsvoordele. Maar het jy geweet aarbeie kan ook jou sekslewe verbeter? Hulle is propvol antioksidante wat bloedvloei deur jou hele liggaam help verbeter, jou geslagsorgane inkluis. Aarbeie bevat ook sink wat blykbaar vroue se liggaam vir seks help voorberei. Verras jou maat deur vir hulle aarbeie te voer en geniet die voordele!

Amandels

Dié neute is meer as ’n gesondheidshappie; dit kan jou ook in die slaapkamer woema gee. Amandels is besonder kragtig vir mans, want dit verhoog vermoedelik hul testosteroonvlakke. Ondersoeke het al getoon mans wat ’n dieet volg wat volop mono-onversadigde vette bevat (wat in amandels voorkom) het die hoogste testosteroonvlakke. Maar vroue moet ook die sexy happie geniet – dit bevat ook vitamienes E en B, terwyl seleen en sink ook met voortplantingsgesondheid help. Die reuk van amadels kan ook jou libido aanwakker. Dalk moet jy vir jou amandelolie aanskaf . . .

Enigiets groen

Groente lyk dalk nie na die sexyste kos nie, maar dit kan jou in die slaapkamer stoom gee. Die moontlikhede is eindeloos – groentee, skommeldrankies met baie groen groente in, slaaie propvol seldery en avokado . . . raak kreatief! Groen kosse gee nie net jou energievlakke ’n hupstoot nie, maar verskaf ook belangrike voedingstowwe vir jou hele lyf.

Acai-bessies

Dink jy dis net ’n superkos-gier? Dink weer, want acai-bessies is dalk die geheim tot ’n herlaaide libido. Die palmvrug verhoog bloedvloei, wat veral met manlike opwekking help. Boonop is acai-bessies wonderlik veelsydig – voeg dit na hartelus by alles van skommeldrankies en jogurt tot sappe.

Noudat jy weet watter kosse jou vryerig maak, wil jy seker ook weet watter kosse jy moet vermy as jy hoop op ’n nag van passie. Steak vir aandete klink dalk romanties, maar die rooivleis bevat baie cholesterol en vet en doen jou libido geen guns nie.

Vleis veroorsaak ook vermoedelik ’n minder aangename lyfreuk, wat natuurlik nie sexy is nie. Nog iets wat jy moet vermy, is alkohol. Dit laat dalk ’n gesprek vloei, maar sal jou nie tussen die lakens help nie. Sensitiwiteit, opwekking en begeerte word gedemp en jy onthou dalk die aand om al die verkeerde redes.

© Cover Media