’n Span van die universiteit van Surrey het bevind groter pakke eetgoed soos aartappelskyfies, lagerbier en lasagne is meer geneig om mense te mislei ten opsigte van ’n gesonde porsiegrootte. Boonop lyk dit asof mans meer dikwels geneig is om beïnvloed te word deur dit wat hulle “die uitwerking van die pakgrootte” noem.

Meer as 13 000 deelnemers in Brittanje, Duitsland, Frankryk, Swede en Pole was by die studie betrek. Dié wat meer geneig was om hul borde met oortollige kos te belaai, het aangeteken hulle bestudeer nie die aanbevole dieetkundige inligting op die pak nie. Dit kom egter voor asof porsiegroottes na normaal terugkeer soos ’n mens ouer word, aangesien dit geblyk het dat ouer deelnemers ’n meer sinvolle hoeveelheid kos kies. Die bevindings is in die tydskrif Appetite gepubliseer.

Honger is nie noodwendig die enigste faktor wat ’n rol speel nie

Honger is nie noodwendig die enigste faktor wat ’n rol speel nie, aangesien die grootte van die verpakking ’n sielkundige foefie is wat gebruik word om verkope te stimuleer. Voedselvervaardigers betaal ’n premie aan groot supermarkte ten einde te verseker dat hul produkte op die ideale plek op die rakke gepak word.

Hierbenewens word rooi promosietekens aangebring om die kopers se aandag te trek sodat hulle meer geneig sal wees om ’n supergroot pak te kies as dit op uitverkoping is.

“Ons gevolgtrekking dui op ’n klein, dog betekenisvolle, ‘pakkiegrootte-uitwerking’ oor al die lande heen en ten opsigte van verskillende soorte kos en drank,” het dr. Sophie Hieke, van die Europese Voedselinligtingsraad, opgemerk.

“As mense werklik die porsies inkry wat hulle in hierdie studie skat, sou daar ’n aansienlike verhoging in energie-inname by elk van hierdie eetgeleenthede voorgekom het.

“Die werklike inname is nie in hierdie studie gemeet nie, dus sal meer navorsing gedoen moet word om te toets of die verhoging in porsiegrootte mettertyd werklik lei tot die voorspelde verhoging in energie-inname.”

© Cover Media