Joga, wat sy oorsprong in antieke Indië het, is fisieke, geestelike en spirituele praktyke wat ’n reeks posisies en asemhalingoefeninge behels.

Daar is bewyse dat gereelde joga voordelig is vir mense met hoë bloeddruk, hartsiekte, skete en rugpyn, en kenners het nou bevind joga ’n paar keer per week kan ’n doeltreffende aanvulling tot tradisionele terapie vir depressie wees.

Dr. Lindsey Hopkins van die San Francisco Veterans Affairs-mediese sentrum het navorsing oor hatha-joga gedoen, wat fokus op fisieke oefeninge, en 23 manlike veterane bestudeer wat agt weke lank tweeweekliks aan jogaklasse deelgeneem het. Daar is bevind deelnemers met hoë depressievlakke voor die joga-program het ná die kursus ’n beduidende vermindering in simptome getoon.

In nog ’n studie het dr. Maren Nyer en Maya Nauphal van die Massachusetts General Hospital data bestudeer van ’n loodsondersoek van 29 volwassenes wat ook getoon het agt weke, of minstens tweeweeklikse bikram-joga – joga in ’n verhitte vertrek – het depressiesimptome beduiend verminder en ander sekondêre maatreëls, insluitend lewensgehalte, optimisme en kognitiewe en fisieke werking, verbeter.

“Hoe meer die deelnemers jogaklasse bygewoon het, hoe laer was hul depressie-simptome teen die einde van die studie,”sê dr. Nyer. 

In die lig van die resultate het dr. Hopkins gesê die idee van joga as komplementêre of alternatiewe geestesgesondheidsbehandeling is so belowend dat die Amerikaanse weermag nou hul eie behandelingsprogramme oorweeg. 

“In hierdie stadium kan ons joga slegs as ’n aanvullende benadering aanbeveel, waarskynlik die beste in kombinasie met standaardbenaderings wat deur ’n gelisensieerde terapeut gelewer word,” het sy gesê. “Dit is duidelik dat joga nie ’n geneesmiddel is nie, maar volgens empiriese bewyse blyk daar baie potensiaal te wees.”

Die studie-uitslae is tydens die Amerikaanse sielkundige vereniging se jaarlikse byeenkoms aangebied.