Wanneer jou kind se verjaardagpartytjie nader kom, kan die gedagte daaraan jou met vrees vul; lekkers, gaskoeldranke en koek – hoe kry jy ooit weer die kinders gekalmeer?

Deskundiges het nou die aanname dat suiker die oorsaak is van hiperaktiwiteit by kinders, die nekslag toegedien, terwyl sielkundiges verduidelik dat dit die ma’s en pa’s is wat dié afleiding maak. Dit wat lyk na ’n suikeropwelling, is eintlik net die adrenalien wat kinders voel wanneer hulle bymekaar is, en hulle dan ook soms toevallig omring word deur suikerhappies.

Volgens prof. David Benton, ’n professor in sielkunde aan die Universiteit van Swansea, sal die feit dat die ouers voorspel dat kinders opgewonde gaan raak en dienooreenkomstig sal optree wanneer hulle soetigheid geëet het, die kleingoed aanspoor om volgens dié verwagting op te tree.

“Mense verwar die feit dat suiker jou energie gee, met die gevoel van energiek wees.”

“Suiker verhoog nie die mate van aktiwiteit by kinders nie. Dit is wat die ouers verwag. Kinders word hiperaktief op ’n partytjie, hulle hardloop rond en wen hulself op.

“Die probleem is om die een van die ander te onderskei. Die kinders weet hulle mag uitgelate wees; daarom is hulle,” het hy in ’n praatjie op Cheltenham se wetenskapsfees gesê.

“Maar daar is ’n baie duidelike boodskap dat suiker nie hiperaktiwiteit by kinders veroorsaak nie.”

David verduidelik dat, deur hul kinders “minder leisels” te gee, die ouers die gedrag van hul kleintjies op ’n ander manier vertolk.

Hy het ook opgemerk hy het die uitwerking van glukose op mense bestudeer en hy is “absoluut oortuig” dit laat ’n mens nie meer energiek voel nie.

Hy glo trouens kinders sal baat vind by ’n bietjie meer kos op skool, aangesien dit hul konsentrasievermoë sal aanhelp en hulle dus beter sal presteer.

“Dit is nie te sê dat ons ons kinders suikerdrankies moet voer nie. Maar kinders verskil van volwassenes in dié opsig dat hul brein ’n groter persentasie van hul liggaam uitmaak; dus het dit ’n groter persentasie energie nodig.

“Breinweefsel gebruik ook twee keer meer energie; daarom het jy ’n standhoudende voorraad energie nodig,” het hy gesê.

“Ek sê ook nie dat die energie in die vorm van suikerdrankies verskaf moet word nie, maar ’n kind moet gereeld voedsel inkry. Wanneer dit stadig vrygestel word, is die kind in ’n beter luim en presteer hy of sy beter op skool.

Om jou kind met suikerhappies te oorweldig word dus nie aanbeveel of aangemoedig nie, maar ouers wat die volgende verjaardagpartytjie vrees, behoort diep asem te haal.

Dit is tog heelwat lekkerder wanneer jou seun of dogter baie lag en pret het wanneer hulle tussen hul vriende is!

© Cover Media