Twee eg Suid-Afrikaanse teesoorte het die vermoë om twee kankersoorte te behandel waaraan die meeste mense in die land sterf

Nuwe navorsing wat onlangs by die Navorsing in Aksie-konferensie van die Kankervereniging van Suid-Afrika voorgelê is, toon dat rooibos en heuningbos albei oor antikankereienskappe beskik en dit kan nuttig wees in die behandeling van prostaat- en borskanker.

Dié twee kankersoorte kom die meeste voor by Suid-Afrikaners. Volgens die jongste data van die Nasionale Kankerregister sal een uit elke 26 mans in hul leeftyd deur kanker geraak word, terwyl een uit elke 33 vroue borskanker sal ontwikkel.

Rooibos, met sy hoë vlak van antioksidante, is al lank bekend vir sy vermoë om te keer dat kanker ontwikkel, maar die nuwe navorsing toon dit kan moontlik ingespan word in die behandeling van kanker – hoewel dit nie die siekte kan genees nie. Prof. Anna Swart, biochemikus aan die Universiteit Stellenbosch (US), het tydens navorsing in die laboratorium bevind dat rooibos-ekstrak ’n uitwerking het op die manlike geslagshormoon dihidrotestosteroon, een van die hoof-aandrywers van prostaatkanker. Hierdie werking is soortgelyk aan dié van medisyne wat tans vir die behandeling van prostaatkanker gebruik word.

Hoewel rooibos 'n gunstige uitwerking het by selpatrone, moet dit nie as geneesmiddel beskou word nie.

Anna is versigtig optimisties wanneer sy sê die uitwerking van rooibos is gunstig by selpatrone, maar beklemtoon dit moenie as ’n geneesmiddel beskou word nie.

“Ons gaan voort met die navorsing en ons bevindings kan rooibos betrek by die ondersteuning van terapeutiese benaderings tot prostaatkanker,” sê sy.

Prof. Ann Louw, nog ’n biochemikus van die US, het die kankerdodende vermoë van heuningbos, ’n ander fynbossoort wat ook as tee gebruik word, bestudeer. Die idee om dit vir medisinale doeleindes te toets kom van staaltjies van gemeenskappe in die Langkloofvallei in die Oos- en Wes-Kaap wat dit gebruik om die simptome van menopouse-probleme te behandel.

Die toets van molekules het getoon heuningbosekstrak bevat chemikalieë wat die vermoë het om estrogeen, wat moontlik die groei van party kankersoorte kan aanhelp, te blokkeer of dit te verhoog.

Hoewel terapie wat uit heuningbos verkry word nog in die toetsfase is, kan dit wel in die toekoms as ’n tweedelinie-geneesmiddel gebruik word teen sommige van hierdie kankersoorte. Ann waarsku egter dat die medisinale waarde van heuningbos grootliks wissel tussen oestye, en dit kan afhang van omgewingstoestande wat tot dusver nog onbekend is.

“ ’n Bepaalde stuk veld kan miskien vanjaar ’n goeie oes lewer, maar oor twee jaar bevat dit dalk nie presies dieselfde samestellings nie,” sê sy.

Bron: Health24