Vetsugtig en uiterste vetsugtig kan lewensverwagting met tot agt jaar verkort en mense van tot 19 gesonde jare ontneem, volgens ’n studie wat Vrydag gepubliseer is.

Die navorsing – ’n wiskundige model gegrond op Amerikaanse gesondheidsdata – behoort ’n nuttige hulpmiddel vir dokters met gevaarlik oorgewig pasiënte te wees, het die skrywers gesê.

Die grootste bron van kommer is mense wat in hul jonger jare al vetsugtig word.

“Die patroon is duidelik,” sê Steven Grover, ’n dosent in epidemiologie aan die McGill-universiteit in Montreal, Kanada.

“Hoe meer ’n individu weeg en hoe jonger hulle is, hoe groter is die uitwerking op hul gesondheid.

“Daar lê baie jare vir hulle voor, waartydens die verhoogde gesondheidsrisiko’s wat met vetsugtig gepaardgaan hul lewe nadelig kan beïnvloed.”

Stephen se span het data gebruik van ’n groot Amerikaanse projek, die National Health and Nutrition Examination Survey, wat duisende mense oor ’n paar jaar dopgehou het om die risiko vir ’n vroeë dood en swak gesondheid by volwassenes met uiteenlopende liggaamsgewig te ontleed.

Hulle het oorgewig en vetsugtige mense vergelyk met mense met ’n normale gewig met die oog op lewensverwagting.

Hulle het ook getal gesonde jare wat elke individu statisties kon verwag, bepaal. Dit is gedefinieer as jare sonder kardiovaskulêre siekte of diabetes – twee siektes wat nou ten nouste met oormatige gewig verband hou.

Die skattings is van toepassing op mense tussen 20 en 79. Volgens die studie, wat in die vaktydskrif Lancet Diabetes and Endocrinology verskyn, was die uitkoms “dramaties”.

Oorgewig individue – wat ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) tussen 25 en 29,9 het – se lewensverwagting daal na verwagting met tot drie jaar.

Dié met ’n LMI van tussen 30 en 34,9 verloor tussen 0,8 en 5,9 jaar van hul lewe. Uiters vetsugtiges, met ’n LMI van 35 of hoër, se lewensverwagting daal met tussen 0,9 en 8,4 jaar.

Die grootste verlies in verwagte lewensduur is in die 20-39-ouderdomsgroep.

Die verlies onder dié wat net oorgewig is, was kleiner en soms onnoemenswaardig. “Gesonde jare” wat weens kardiovaskulêre siekte of diabetes verlore gaan, wissel van 0,5 tot 19,1 jaar.

Die grootste verlies is in die 20-39-ouderdomsgroep van vroue. Die kleinste verlies was onder oorgewig mans tussen 60 en 79.

Die data is van ’n deelversameling van 4 000 mense in die 2003-2010 Amerikaanse sensus. Almal was wit en besonderhede oor hul gesondheid en bloedsuiker was bekend.

Die waarskuwing moet konserwatief behandel word omdat die studie net twee siektes in ag geneem het wat met vetsugtig gepaardgaan.

Kanker, asemhaling-, lewer- en niersiektes word ook met oorgewig verbind.