Hulle meen

mense moet weer dink oor die wydverspreide gebruik en goedkeuring daarvan.

Dit staan ook bekend as niekaloriese kunsmatige versoeters, en dit word gebruik in dieetkoeldranke, -ontbytpap en -nagereg –  ’n groot mark mense wat hulle bekommer oor gewigstoename en suikerinname.

Party kenners beveel versoeters aan vir mense met tipe 2-diabetes, ’n siekte wat pandemiese afmetings aanneem, asook vir ’n prediabetiese toestand genaamd glukose-onverdraagsaamheid, met verhoogde bloedsuikervlakke.

Nadat dit ’n sensasie van soetheid op die tong gelaat het, beweeg die versoeter se molekule deur die dermkanaal sonder dat dit geabsorbeer word.

Dit verduidelik hoekom dit, anders as suiker, ’n onbeduidende aantal kalorieë byvoeg.

Maar navorsers het in die vaktydskrif Nature berig eksperimente op muise en ’n klein groep mense het getoon kunsmatige versoeters versteur die samestelling en funksie van bakterieë in die ingewande, en het eintlik glukose-onverdraagsaamheid aangehelp.

“Kunsmatige versoeters is breedvoerig in ons dieet ingebring met die doel om kalorie-inname te verminder en bloedglukosevlakke te normaliseer sonder om die mens se suikertand af te skeep,” het die studie gesê.

“Ons bevindings dui blykbaar daarop versoeters het dalk direk bygedra tot die bevordering van die epidemie wat dit wou help keer,” sê dit onomwonde.

’n Groep wetenskaplikes, onder leiding van Eran Elinav en Eran Segal van die Weizmann-instituut vir Wetenskap in Israel, het drie gewilde versoeters – aspartaam, sukralose of sakkarien –  in toepaslike dosisse gelykstaande aan aanbevole maksimum menslike inname by die muise se drinkwater gevoeg.

Die muise wat versoeter gekry het, het glukose-onverdraagsaamheid ontwikkel, maar muise wat net water (of water met suiker) gekry het, het nie.

Volgende het die navorsers ontlasting van muise wat versoeter en suiker gevoer is in knaagdiere oorgeplant wat geteel is om geen dermbakterieë van hul eie te hê nie.

Die bloedglukosevlakke van die ontvangers van versoeter het skerp gestyg, het die span bevind – en hul dermbakterieë het harder gewerk as die ander s’n om glukose uit voedingstowwe te haal.

Die volgende stap was om hierdie insigte op mense toe te pas.

Die span het vraelyste en gesondheidsdata van 381 niediabete nagegaan, en het bevind dat daar ’n “belangrike” verband tussen glukose-onverdraagsaamheid en hoër versoeter-inname is.

Eindelik het die navorsers sewe vrywilligers wat nie gereeld versoeters gebruik nie, op ’n eetplan van sewe dae geplaas wat die maksimum versoeter-inname insluit wat die Amerikaanse voedsel-en-dwelmadministrasie toelaat.

Binne vyf tot sewe dae het vier mense verhoogde bloedglukosevlakke en ’n veranderde samestelling van die dermbakterieë gehad, wat blykbaar die uitwerking op muise nageaap het.

Vorige ondersoeke na kunsmatige versoeters het gemengde uitslae gelewer. In party is daar voordele vir gewigsverlies en glukose-verdraagsaamheid, terwyl ander die teenoorgestelde toon.

Dat baie versoetergebruikers reeds diabetes het of daartoe geneig is, dra by tot nog verwarring.

Die nuwe proefneming is ’n waarskuwing, sê die span.

“Dit vereis ’n nuwe benadering tot vandag se wydverspreide verbruik sonder toesig van hierdie middels,” sê Eran.

Onafhanklike waarnemers het die ondersoek vir sy innovering geprys, maar gewaarsku teen oorreaksie.

Die eksperiment op mense het net sewe mense oor ’n week behels, en breër en langer ondersoeke is nodig om tot enige besliste gevolgtrekking te kom, het hulle gesê.

“Menslike diëte is baie ingewikkeld en bestaan uit baie kossoorte, en die inname daarvan kan in hoeveelheid en mettertyd afwissel,” het John Menzies van die Sentrum vir Geïntegreerde Fisiologie aan die universiteit van Edinburgh in Skotland gesê.

“Hierdie navorsing waarsku dat kunsmatige versoeters dalk nie ’n ‘onskuldige toweroplossing’ is wat die vetsug- en diabetes-epidemie moes help verlig nie,” het Nita Forouhi, ’n epidemioloog aan die universiteit van Cambridge aan Brittanje se Science Media Centre gesê.

“Maar dit bied nog nie genoegsame bewyse om openbare gesondheid en kliniese praktyk te verander nie.”

Bron: Richard Ingham/Sapa-AFP