Navorsers reken ’n blikkie Coke sal binnekort meer suiker bevat as jou aanbevole daaglikse inname.

Die Wetenskaplike Advieskomitee oor Voeding (WAKV) het onlangs verklaar dat volwassenes hul daaglikse suikerinname moet verlaag tot hoogstens sewe teelepels of blokkies. Dit is die helfte van die huidige aanbevole hoeveelheid en beteken dat ’n blikkie Coke meer as die ideale hoeveelheid suiker sal bevat. Hulle het die voorstel gemaak in ’n poging om die skerp stygende vlakke van vetsug en die getal mense by wie diabetes gediagnoseer word teen te werk.

Minder suiker in die dieet kan ook die groter wordende probleem van die getal kinders wat met tandbederf in die hospitaal opgeneem word help verminder.

Die WAKV, ’n onafhanklike Britse liggaam van voedingkundiges, het hul navorsing op vrye suiker gefokus. Dit sluit in sukrose of gewone rietsuiker, glukose en die suiker wat natuurlik in heuning, strope en onversoete vrugtesappe voorkom. Die laktose in melk en ander melkprodukte word egter uitgesluit.

Die WAKV het in sy finale verslag oor koolhidrate en gesondheid aanbeveel dat vrye suikers nie meer as 5 persent van iemand se daaglikse energie-inname behoort te vorm nie.

Dit sal gelykstaande wees aan 19 g of vyf blokkies suiker vir vier- tot sesjarige kinders, 24 g of ses blokkies suiker vir sewe- tot 10-jarige kinders en 30 g of sewe blokkies suiker vir mense wat 11 jaar en ouer is.

Die vereniging het het bevind dat die inname van te veel drank met ’n hoë suikerinhoud die risiko vir tipe 2-diabetes verhoog. Dit veroorsaak ook gewigstoename en verhoog die liggaamsmassa-indeks, asook die genoemde tandbederf by kinders en tieners.

“Die bewyse is onteenseglik: te veel suiker is skadelik vir die gesondheid en ons moet almal besnoei,” het prof. Ian Macdonald, voorsitter van die WAKV se koolhidrate-en-gesondheid-werkgroep gesê.

“Die duidelike en konsekwente skakel tussen ’n hoësuikerdieet en toestande soos vetsug en tipe 2-diabetes is die wekroep wat ons almal nodig het om nog ’n slag na te dink oor ons dieet. As ons minder suiker en meer vesel insluit, het ons almal ’n beter kans om langer te leef en gesond te bly.”

© Cover Media