Kook jy agter die stuurwiel op die maat van Kings of Leon, Eminem en Avicii?

V31S70

Wel, as jy daardie musiek vir dié van Norah Jones en Sarah Sarah McLachlan verruil, kan dit blykbaar van jou ’n beter bestuurder maak.

Die inligting verskyn op die webtuiste van die Kanadese firma Kanetix.ca, wat aanlyn vergelykingstudies doen vir finansiële maatskappye soos versekeraars. Daarvolgens veroorsaak sekere soorte musiek dat bestuurders makliker te vinnig ry of roekeloos bestuur.

Die navorsing toon enige harde, “woedende” musiek met ’n vinnige ritme beïnvloed bestuurders se gedrag nadelig. Dit maak hulle byvoorbeeld meer geneig om te jaag. Rustige musiek het weer die teenoorgestelde uitwerking. Dit kalmeer bestuurders en laat hulle stadiger en versigtiger ry.

Volgens die ondersoek kry bestuurders wat na heavy metal luister meer dikwels spoedkaartjies. Digby 50 persent van hulle het in die ondersoek gesê hulle het tussen een en drie spoedkaartjies gekry, teenoor 40 persent van die ander bestuurders met ’n kalmer musieksmaak.

Dalk moet ons almal eerder na folkmusiek luister – liefhebbers van hierdie musiek het blykbaar nog nooit ’n spoedkaartjie gekry nie.

Kyk gerus hoe beïnvloed musiek jou. As harde rock jou roekeloos maak, skakel oor na strelende klanke. Dalk bespaar jy baie op verkeersboetes.

Faiza Mallick

Persverklaring: Dial Direct Insurance

Foto: Flickr - Antti T. Nissinen